BESONDERSE KULTUUR-GELEENTHEID

Stilbaai Leeskring, in samewerking met die Hessequa Biblioteekdiens bied op Woensdag, 31 Mei ’17 ‘n besondere kultuur-geleentheid aan. Ons doel is om plaaslike lesers te bederf met ‘n soort kunstefees-geleentheid hier op eie drumpel. Ons nooi ook hoërskool-leerders van omliggende skole, om hulle te motiveer, te vermaak, en lus te maak om self te lees !

Ons tema vanjaar is ” Afrikaans in Aksie !” en daarom het ons jonger sprekers genooi om te vertel hoe hulle met woorde werk. Ons eerste spreker is die bekroonde jeugboekskrywer Nanette van Rooyen, en ons tweede spreker is die jong akteur Gideon Lombard. Hy tree ook in die sepie Suidooster op, en het pas ook die Kanna vir beste manlike akteur by die afgelope KKNK ontvang. Beide sprekers is opgewonde om Hessequa te besoek, en ons wil graag heelwat mense in die gehoor hê.

Die geleentheid is in die Riversdal Burgersentrum om 10h00 op Woensdag, 31 Mei. Daar sal ook tee en verversings aangebied word. Die kaartjies is by die plaaslike biblioteke beskikbaar, en ook by die deure . Die koste is R50 per kaartjie.
Die geleentheid sal geopen word deur ons, burgemeester, Mnr Grant Riddles . ‘n Huldeblyk aan SV Peterssen sal deur die plaaslike skrywer, Marie Heese, gedoen word.
(Annet Conradie -Voorsitter Stilbaai Leeskring)

WEES TEVREDE MET WAT JY HET

OPSKRIF : ‘N LEIER LEEF SY GELOOF PRAKTIES UIT
LEES : Handelinge 9 : 36 – 41

Joppe het soos die meeste kusdorpe ‘n groot aantal inwoners gehad. Daar was ook baie arm mense en weduwees. In Dorkas (Tabita) se bokamer het sy ure lank gewerk en klere gemaak om die mense te help. Sy was werklik ‘n persoon, ‘n leier wat haar geloof prakties uitgeleef het. Sy was bereid om ‘n helpende hand uit te steek en ‘n beker water aan te gee, klere te gee, mense in die tronk te besoek. Sy het juis die opdrag van Jesus hierin nagekom. Dit was ‘n groot slag toe sy sterf. Gelukkig onthou mense dat Petrus in Lidda is, so ongeveer 16 kilometer van Joppe. Hy word geroep en as hy kom vind die wonder plaas. Tabita word opgewek. God het Petrus se gebede verhoor. Was dit bloot ter wille van die mense van Joppe dat God hier ‘n wonder laat gebeur? Nee, in vers 42 lees ons die reaksie van die mense. God word geloof en geprys. As jy in die wëreld geroepe voel om iets te doen aan die nood en hartseer van mense in die stukkende wêreld, moet jy juis weet dat dit nie ten eerste om mense moet gaan nie. As dit net om mense gaan, is ons humanisties. Ons hulp aan mense, ons uitreik na ander, moet daaroor gaan dat die Here geloof en geprys word en dat ons so mense na die Here sal lei.

Ds Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstraat)

JAN BRAAI FIETSROETE

Jan Braai ons Suid Afrikaanse Braai Ikoon het vanaf 5 tot 12 Mei 2017die eerste Braai Toer op fietse geloods, ‘n fietstoer met ‘n verskil.

Nie ‘n resies nie maar 5 dae van fietsry deur die mooiste natuurskoon op grondpaaie vanaf George na Swellendam, alles in ‘n pret en vakansiegees Montagu Pas, die Klein Karoo, Rooiberg Pas en Garciapas is gery.

Op dag 4 het die groep vanaf die Garcia Pas oor die plaas Vetterivier, verby die steenoonde van Spitskop Steenwerke gery na Kweekkraal Gasteplaas waar hulle oornag het.
Dit het ook daardie dag gereën en die fietsryers het nat en modderig op Kweekkraal aangekom. Na ‘n lekker warm stort het almal heerlik voor die kaggel gekuier, moeë en seer bene is gemasseer.

Laatmiddag is groot vure aangesteek, gekuier en ‘n ontbeende lam gebraai.Na ‘n stewige ontbyt Vrydagooggend het almal weer vertrek vir die laaste been van die toer. Kweekkraal Gasteplaas is reeds weer bespreek vir die volgende Braai-fiets-toer in November