‘n Huis is in 1913 op die Wesstrand gebou wat tans bekend is as die Blou Huis. Daar wás altyd aantreklike tradisionele óu strandhuisies. Gustav Radloff, voorsitter van die Stilbaai Belangeforum, se vrou Liliétte, is mede-eienaar van die een huisie wat in die middel van die ry huisies staan. Hulle huisie is nog ongerep en dra vele kenmerke van toeka se dae. Dit is in sulke behoudende hande wat Stilbaaiers en ongeveer twee honderd forumlede lede hulle vertroue plaas om Stilbaai se belastingbetalers se belange te behartig.
Wat het julle Stilbaai toe laat verhuis?
Ons is van Pretoria. Sedert 1963 het Gustav in Stilbaai kom vakansie hou. Liliette kuier hier al sedert 1945. Ons het in 2012 hierheen verhuis. Ons is baie lief vir stap, swem, roei en die kalkrand fynbos wat Stilbaai se omgewing so uniek maak. Stilbaai is die dorp wat alles bied wat ons begeer.
Wat is die Stilbaai Belangeforum?
Die Stilbaai Belangeforum (SBF) is ‘n vrywillige organisasie wat veral aandag gee aan die Munisipaliteit se dienslewering m.b.t. elektrisiteit, waterverskaffing, riolering, vullisverwydering, parke en ontspanning, gesondheid, verskaffing van nooddienste, sinvolle dorpsbeplanning en –ontwikkeling, onderhoud van paaie, stormwaterdreinering, algemene administrasie en finansiële bestuur asook die heffing en aanwending van eiendomsbelasting en dienstegelde.
Wat is die doelwit van die SBF?
Die SBF waak oor en bevorder die die belange van alle inwoners in Stilbaai en sy onmiddellike omgewing. Die doelwit van die Belangeforum is om ‘n balans te vind tussen ontwikkeling en bewaring. Ontwikkeling is ‘n gegewe. Bewaring is noodsaaklik. Die uniekheid van Stilbaai moet behoue bly. Die SBF nooi belastingbetalers en belangehouers om aan te sluit en deel te word van Stilbaai se toekoms. Besoek ons webwerf, t.w. Stilbaai Belangeforum of Stilbaai Interests Forum.
Hoekom het jy betrokke geraak by die Forum?
Ek het gou besef dat die Forum belangrike werk doen om die belange van Stilbaai se inwoners te bevorder en hulle bekommernisse te probeer aanspreek. Ek het aangesluit as lid en is mettertyd verkies as bestuurslid en was aangenaam verras om te sien hoe suksesvol saamgewerk word, nie alleen met die munisipaliteit nie, maar ook met ander organisasies. As afgetrede prokureur het ek gou besef dat van die versugtinge van baie mense van die gemeenskap, nie haalbaar is nie eenvoudig omdat Suid-Afrika se Grondwet vryhede soos die van beweging en wettige ekonomiese aktiwiteite, waarborg. Ons kan die horlosie nie terugdraai nie maar ons kan wel help toesien dat ons toekomsbeplanning sinvol en met oorleg gedoen word.
Werk julle saam met die Munisipaliteit?
Ja, daar bestaan ‘n goeie verstandhouding tussen munisipale amptenare en die Raad met die Belangeforum. Ons dien ook as spreekbuis tussen die inwoners en die plaaslike owerheid veral ten opsigte van ontwikkelingsbeplanning en natuurbewaringsbehoeftes.
Hoe het Stilbaai gelyk toe julle die eerste keer hier kom vakansiehou het?
Stilbaai was destyds ‘n vissersdorp waar die mense van hoofsaaklik die Hessequa kom vakansie hou het. Mettertyd het dit ‘n vakansiedorp geword wat besoekers van dwarsoor die land gelok het en toenemend steeds lok. Veral sedert die “baby boomers” aftree-ouderdom bereik het, het Stilbaai ook in ‘n gewilde aftreedorp ontwikkel. Die dorp het tans ‘n bietjie van ‘n gesplete persoonlikheid – afgetredenes met hulle besondere behoeftes en vakansiegangers wat ook hulle eise stel. Die twee groepe stem nie altyd saam oor die pad vorentoe nie.
Wat dink jy trek veral jonger mense na Stilbaai?
‘n Kenmerk van Suid Afrikaners is dat ons trekkers is. Ons trek al van die begin af. Ons trek waar ons kan vry en veilig wees.
Wat het julle hierheen gelok en wat hoop jy nou vir Stilbaai?
Dat dit wat ons hierheen gelok het, die ongerepte omgewing, vriendelike mense, die vrede en rustigheid, moet sover moontlik behoue bly.
Watter soort strukture of dienste benodig Stilbaai om toekomsgerig te bly?
Omdat daar baie ouer mense – die bo-vyftigs hier kom aftree en omdat oudword noodwendig krankhede meebring, sou ons graag wou sien dat ons mediese dienste, wat in die jongste tyd aansienlik verbeter het, steeds opgegradeer word ten einde die lewensvatbaarheid van Stilbaai as aftree-dorp, te verseker.
Wat is tans dae prioriteit vir die Belangeforum?
Die watersituasie. Dit is vanselfsprekend dat die vraag na water sal groei namate Stilbaai uitbrei. Daar moet dus maatreёls in plek wees om te verseker dat die aanvraag na water nie die voorsiening sal oorskrei nie. Ons moet veral versigtig wees om ons waterbronne nie te oorbenut nie.
Veiligheid. In Stilbaai kan mense nog veilig in huise woon wat nie eens omhein of juis beveilig is nie. Dit is ‘n groot trekpleister vir nuwe intrekkers.
Omgewing. Die klimaat is matig en die omgewing veilig. Afgetredenes steun deur die jaar plaaslike besighede en baie permanente inwoners verkies om vir die res van hulle lewens hier te bly. Sommiges is egter verplig om te verhuis sodra dit blyk dat die bestaande gesondheidsfasilite onvoldoende is om aan hulle behoeftes te voldoen. Ons moedig derhalwe die opgradering van gesondheidsfasiliteite aan.
Natuur. Daar bestaan tans ‘n groen verbindingstrook tussen die Palinggat Groengebied en die Skulpiesbaai Natuurreservaat. Met hierdie gebied moet versigtig mee omgegaan word. Ons voel baie sterk daaroor dat geen besighede van enige aard langs Hoofweg Wes tussen die Jongensfonteinpad en die Gholfbaan, gevestig word nie. Hierdie groen stroke dra baie daartoe by dat die dorp sy aantreklikheid en karakter behou. Dis belangrik dat natuurliefhebbers na hartelus kan stap op die vele wandelpaaie wat steeds uitgebrei kan word.
Die Vergroening van ons dorp. Ons het die afgelope twee jaar ongeveer 4000 bome in Stilbaai en die omliggende dorpe geplant en laat aanplant en beoog om in samewerking met die munisipaliteit met hierdie projek onbepaald voort te gaan.
Wat is belangrik van Stilbaai vir jou?
Dat hierdie gewilde kusdorp nog vir baie jare sal kan voortbestaan sonder om sy karakter te verloor. Die uniekheid van die dorp moet nooit vernietig word deur onverskillige, ondeurdagte ontwikkeling nie.
Gustav Radloff
083 459 4998