DISNEY DROME

article-pic-1

Op 9 November het die ACVV speelskool Hansie & Grietjie te Heidelberg ’n stampvol NG kerksaal vermaak met Disney Drome. Die konsert is ’n jaarlikse instelling en altyd baie kleur-en verbeeldingryk.
Vanjaar was Stefanie Keyser (tannie Fienie) weer aan die beurt. Sy het gesorg vir die teks, musiek en regie. Twee ou dames, Mona en Mavis, van Huis Zenobia wen ’n besoek aan Disneyland. Wanneer hulle in die lugballon ry, verloor Mavis haar valstande. Dit sit ’n geweldige soektog op tou en talle van die bekende Disneykarakters (en sommer ’n paar ander ook) word aangetref en gevra om te help. Tot Heidi en Peter het verskyn, laasgenoemde met ’n regte spierwit boklammetjie wat seker maar nog ’n week oud was en omtrent die toneel gesteel het. ’n Mens wonder of die verhoog nou al skoon is na al die ‘sneeu’ wat geval het tydens Frozen…
Sommige liedjies is gesing deur die groep en ander was opnames uit die bekende rolprente. Elke karaktertjie was tog te fraai en kontant en het die gehoor kort-kort aan die toejuig gehad. Die twee ‘juffrouens’ van die speelskool – Rolien Ackerman en Christelle Pick – was net soveel deel van die pret, eersgenoemde as Minnie Mouse en laasgenoemde as Sheherazade. Mona en Mavis is baie knap vertolk deur An-Mari Ackerman en Christa Croukamp.’n Hele span was regdeur agter die verhoog aan die woel met toneelwisselinge en so meer. Charles du Preez van Riversdal het Stefanie oudergewoonte uitstekend bygestaan met klank en beligting. Almal sien sommer nou al uit na volgende jaar se aanbieding.

Wim Vorster
wimvorster1@gmail.com  

OORDENKING

oordenking

DIE ARMOEDE VAN DIE GEBED

SKRIFGEDEELTE : Romeine 8 : 14 – 30
FOKUSGEDEELTE : Romeine 8 : 15 en 26
In die vorige oordenking het ons gelees van die rykdom van die gebed. Daar is egter ‘n ander kant, naamlik die armoede van die gebed. Die armoede bestaan daarin dat ons gebede eintlik ‘n roep tot God is.
Dit is opvallend dat daar in Rom 8:15 nie sê of bid nie , maar roep staan. Die woordjie “roep” in Rom. 8:15 en Gal 4:6 het ‘n Ou Testamentiese agtergrond. Ons lees telkens dat Israel tot die Here roep (Eks 22:23; Rigters 3:9; Ps. 22:6 – 1953 vertaling) Wat beteken dit? Roep veronderstel ‘n noodsituasie. Ons gebede is eintlik ‘n roep. Ons roep vanuit ‘n onvolmaakte wêreld. Die gebed as roep teken die nood waarin die gelowige staan. Verder teken Rom 8:26 die armoede van die gebed deur te stel dat die Gees ons in ons swakheid (enkelvoud) moet help. Ons swakheid is dat ons nie weet wat om te bid nie. By die gelowige is daar ‘n onvermoë om te bid. Swakheid dui dus op iets tiperend van die gelowige vir solank hy nog in hierdie bedeling van skuld en gebrokenheid lewe. Uit hierdie swakheid kom die armoede en hulpeloosheid van die gelowige in ons gebede na vore. Daarom is ons gebed eintlik ‘n roep vanuit ons swakheid en nood.
Die troos vir elke gelowige is egter – al is die onvermoë om te bid so radikaal, tree die Heilige Gees self vir elke gelowige op so manier in dat ons gebede ooreenkomstig die wil van God is (vers 27). Ons mag dus – beter gestel – moet dus bid.
Armoede? Ja, maar ook rykdom – ons gebede word opgeneem en gesuiwer deur die Gees om dit dan voor te hou aan ons
Hemelse Vader:
‘n Hemelse Vader in Jesus Christus ons Here.
‘n Hemelse Vader wat weet wat ons nodig het en vir sy kinders sorg.
Ds Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai  

LIFESAVING SA

article-pic-1

Hessequa Surf
Lifesaving Club and NSRI joint training session. Lifesaving South Africa and NSRI are collaborating to ensure the community gets the best service. #stopdrowning

NSRI Stilbaai 082 990 5978