KLAVIER-EN VIOOLKONSERT DEUR WÊRELDBEROEMDE EGPAAR OP STILBAAI.

Op Sondagmiddag 4 Februarie 2018 om 4nm. bied die Stilbaai Musiekvereniging hulle openingskonsert vir die jaar aan in die NG Kerksaal-Oos. Nikolaas Kende, die Belgiese pianis en professor in Musiek aan die Koningklike Konservatorium te Antwerpen tree op saam met sy eggenote en befaamde violis, Jolente de Maeyer in ‘n konsert wat beloof om baie vriende vir hulle te maak. Dit vorm deel van hulle eerste konserttoer deur Suid-Afrika. Hulle program behels sonatas vir klavier en viool van Mendellsohn, Robert Schumann en die Kreutzer Sonata vir viool en klavier van Beethoven. Hulle nuwe opname van hierdie Beethoven-werk het vir hulle in Junie 2016 die gesogte “Golden Label Award” losgeslaan!

Jolente het haar eerste vioolles gehad toe sy vier jaar oud was. Sy het so goed gedoen dat sy op veertien jaar oud deur Jehudi Menuhin genooi is om sy musiekskool by te woon en daarna haar studies voortgesit het by die Royal College of Music in Londen en ander hoogs beroemde instansies in Duitsland en België. Sy het sedert sy 6 jaar oud was dikwels internasionale kompetisies gewen en het in 2003 saam met Nikolaas Kende begin optree . Die twee het toe in 2007 die Rubens Ensemble gevorm.

Nikolaas is in 1981 gebore in ‘n musiekgesin. Op 5 jarige ouderdom begin sy klavieronderrig deur sy ouers en kulmineer in sy studies aan de Konservatoriums van Amsterdam en Antwerpen en daarna na Duitsland waar hy sy Meesterklasdiploma ontvang. Hy wen sedert ‘n baie jong ouderdom vele musiekkompetisies en pryse. Op ‘n jong ouderdom het hy reeds sy internasionale loopbaan begin en het en tree steeds gereeld op in die bekendste konsertsale van Europa en Amerika, alleen en saam met van die mees beroemde klassieke kunstenaars van die huidige era. Hy het ook baie opnames gemaak vir radio en televisie vir verskeie Europese lande en tree ook gereeld op oor radio en televisie.

Kaartjies is te koop by CUPZ Cafe, Lilliput en by die deure en kos R80 vir lede en R100 vir nie-lede.