PERSOONLIKHEID VAN DIE WEEK

article-pic-1

Fuhr Elize – Baie geluk!

Op Vrydag, 7 Oktober is Elize Claassens aangewys as vrou van die jaar in die SAPD in die Wes-Kaap. Daar is 150 polisiestasies in die Wes-Kaap.
Dit is die tweede keer dat sy die toekenning Stilbaai toe bring.
Elize in samewerking, met Badisa en Ouma Lena se huis, is betrokke by verskeie projekte in die gemeenskap asook ander organisasies waar daar projekte geloods word wat veral kinders en vroue. Sy is ook betrokke by verskeie buurtwagte asook by die GFP.
Gedurende die Winter was daar komberse en warm klere aan inwoners van die landelike omgewing uitgedeel.
Vanaf 2007 tot 2016 was sy ook betrokke by traumakamer van die polisie. Sy was die stigter van die inisiatief. Hierdie projek is ’n uitreikingsprojek wat veral fokus op hulpverlening aan kinders en vroue wat gemolessteer is en daardie trauma moet verwerk. Die persone is maandeliks besoek en daar is gereel vir berading vir die slagoffers.
Saam met Badisa het Elize gedurende 2014 begin met ’n jaarlikse fondsinsamelingsprojek wat “Back to school” genoem word. Met hierdie projek word die fondse wat ingesamel word aangewend om skoolskoene ens. te koop vir minderbevoorregte kinders.
Die dames van die Stilbaai SAPD het twee kinders, ’n dogter van 6 jaar en ’n seun van 12 jaar “aangeneem” van twee verskillende polisiebeamptes wat aan diens gesterf het. Die lede was werksaam by Brackenfell SAPD. Daar word op ’n gereëlde basis met “voogde” gekommunikeer. Die kinders word voorsien van hul skoolklere en skryfbehoeftes. Een keer ’n kwartaal word daar ’n bederfie aan die kinders gestuur en met kersfees word daar geskenkies en lekkernye saamgestuur.
Elize wat in George gebore is, het op ’n plaas in Leeukloof in die Mosselbaai-distrik grootgeword. Sy is ’n oudleerling van Laerskool Ruiterbos en het aan die Hoërskool Punt gematrikuleer. Sy is die jongste van drie kinders,
Op 16 September 1991 het sy in Mosselbaai by die SAPD begin werk en op 3 Januarie 1995 by Stilbaai SAPD ’n pos aanvaar. Hier is dit haar verantwoordelikheid om die stasie se logistieke reëlings klopdisselboom te laat rol.
Een van Elize se grootste wense is om meer tyd beskikbaar te hê……….
Sy glo daaraan dat ’n mens altyd positief moet wees en dat jy 95% van die tyd vir jou eie geluk verantwoordelik is. Haar lewensleuse is: “Maak die beste van dit wat jy het en jou omstandighede en moenie bang wees vir nuwe uitdagings wat na jou kant toe mag kom nie”.
Wanneer ’n mens in Elize se geselskap is, kan jy nie anders as om in haar lewensvreugde opgeraap te wil word nie. As sy dit terloops noem dat sy gedurende die afgelope 17 jaar nie een dag as gevolg van siekteverlof van die werk afwesig was nie, slaan jy jou hande saam en kry amper net “Sjoe! Wow, hete, jitte, jislaaik, maggies” gestotter! Maar wag, dit raak beter… In die afgelope 25 jaar was sy nognet 12 dae met siekteverlof.
Wanneer sy so terloops noem dat sy baie lief vir die buitelewe is, dat sy graag stap en al ’n hele paar Vasbyte agter die rug het, slaan jy maar net weer jou hande saam, hierdie keer net ’n bietjie meer uitasem. ’n Vasbyt is ’n staptog van 75 km wat oor twee dae gestap word.
Elize raak ’n oomblik stil en dan sê dan met opregtheid: ”Hier die toekenning is nie iets wat jy op jou eie kry nie en ek wil vandag aan elke liewe persoon wat in my lewe is, se dat hulle elkeen ’n aandeel het in hierdie toekenning het en dat ek uit my hart baie dankie sê vir elkeen se aandeel.
Dit word tyd om te groet. Dit is laatmiddag en Elize moet nog gaan regmaak, want……….. dit is tyd vir haar daaglikse oefen-roetine wat ’n stywe staptog in Stilbaai is. Daar waar dit opdraende en dan weer afdraende is en die branders aangerol kom. Elize se ritme, die see se ritme en Elize wat so in die stap planne beraam om nog iemand se lewe ten goede aan te raak.
Elize, Stilbaai wens jou baie geluk met hierdie toekenning. Baie dankie vir jou onbaatsugtige toewyding daaraan om die wêreld ‘n beter plek te maak en dan meer spesifiek Stilbaai en haar omgewing. Baie sterkte vir die toekoms. Mag jy die toekenning volgende jaar vir ’n derde keer Stilbaai toe bring. Baie geluk ook aan Stilbaai SAPD met hierdie besonderse prestasie.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply