SKONER STILBAAI / GROENER HESSEQUA

article-pic-1

Nadat burgemeester Grant Riddles op 16 September die eerste boom geplant het, is die afgelope twee weke meer as 60 inheemse bome deur lede van die Stilbaai Belangeforum (SBF) en die publiek aangeplant. Die twee oop areas wat tans beplant is, is deel van sewe parke of openbare gebiede waarvoor die Belangeforum 150 bome aangekoop het.

Hierdie aksie is ‘n uitbreiding van die Skoner Stilbaai/Groener Hessequa-aksie, soos deur die SBF geloods en word deur meeste Stilbaai verenigings en organisasies, sowel as ‘n groot aantal individue gesteun. Die eerste twee jaar is toegespits op opruim van rommelstrooiery en verwydering van indringer bome soos Port Jacksons en Rooipitjies. Begin van vanjaar het SBF besluit om daarby ook die Hessequa Munisipaliteit se aksie vir die aanplant van bome te ondersteun. Dit word beskou as ‘n proeflopie wat later uitgebrei kan word na ander dorpe in Hessequa.

Die Belangeforum het onderneem om 150 bome aan te koop vir aanplanting en te reël vir hul versorging, mits die Munisipaliteit onderneem om o.a. water aan te lê en gate te maak. Hessequa Munisipaliteit het onmiddellik ingestem. Hierdie samewerkingsaksie tussen die Munisipaliteit en die gemeenskap is tans in volle gang.

Die Voorsitter van die Stilbaai Belangeforum, Gustav Radloff, doen ‘n ernstige beroep op inwoners rondom die betrokke parke om te help met die aanplant en versorging van die bome. Verenigings en organisasies wat die Skoner Stilbaai/Groener Hessequa aksie ondersteun word versoek om ook hul lede tot volgehoue steun om Stilbaai skoner en groener te maak, aan te moedig. Daar is groot waardering vir die instansies en individue wat voortdurend hieraan aandag gee. Rommelstrooiery bly egter steeds ‘n probleem (bosslapers asook sekere lede van die gemeenskap, sowel as vroeë uitsit van vuilgoedsakke) en die verwydering van indringer bome vereis voortdurende aandag.

Dr Gerrit Mars, wat die bome vir Stilbaai baie billik kon bekom en die hele aksie bedryf, het self nog ‘n verdere 2740 boompies aangekoop, terwyl Henry van der Hoven ook ‘n aantal geskenk het. Hierdie bome word beskikbaar gestel vir aanplanting oor die hele Hessequa, met beklemtoning op ons meer afgesonderde gemeenskappe sodat inwoners hul plekke kan verfraai. Etlike honderde is reeds aan Melkhoutfontein en Albertinia gegee en Wyksraadslede word versoek om geskikte gebiede en persone in hul wyke aan te dui om met die verspreiding, aanplanting en versorging behulpsaam te wees. Met goeie ondersteuning sal so verseker word dat die hele Hessequa groener sal word.

John Willemse (willemsej@vodamail.co.za)
Stilbaai Belangeforum (082 377 5212)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply