BUSY LIZZY Huis- en Tuinbouklub Stilbaai.

Die afgelope maandvergadering op Dinsdag, 16 Mei het die lede van die Busy
Lizzie Huis- en Tuinbouklub besonder interessant gevind. Jaap Viljoen van
die ROOIKLIP KWEKERY op Swellendam het ons toegespreek oor Tuinmaak In
Droogte Toestande.

Jaap het nie alleen baie kennis oor aalwyne nie. Hy het self ‘n groot
verskeidenheid nuwe soorte ontwikkel en gekweek. Rooiklip Kwekery is ‘n
groothandelaar in plante en voer ook plante uit na die buiteland.
Sy toespraak is toegelig met die mooiste fotos op ‘n skerm. Dit is feitlik
ondenkbaar dat daar deesdae aalwyne in omtrent alle kleure beskikbaar is.
Fotos van pienkes, wit en ander wat amper soos vuurpyle lyk, is op ‘n
lekker groot skerm gewys. Buiten die alombekende Aloe Ferrox en Aloe Vera is
daar nou baie ander soorte beskikbaar. Behalwe die piepklein soorte is daar
baie mooi variëteite wat laaggroeiend is met groot kandelare van blomme. Die
soorte is ook so geteel dat daar omtrent regdeur die jaar soorte is wat
blom. Voorwaar ‘n paradys vir voëls wat nektar soek.

Ons is ook geleer watter siektes aalwyne aanval en hoe om dit te hanteer en
te bekamp. Herwinne water kan gebruik word, maar daar moet tog versigtig
omgegaan word met water wat sekere chemikalië bevat. Die plante is gehard en
sal nie sommer van droogte doodgaan nie. Hulle wasagtige blare stoor water
en “trek toe” in uiterse omstandighede sodat daar die minimum verdamping
plaasvind. ‘n Blombedding van aalwyne van verskeie volwasse groottes
gekombineer met strelitzia soorte, sanseveria (skoonma se tong), grassoorte
en geharde grondbedekkers is die oplossing vir die toekoms waar die
besparing van water so noodsaaklik is. Voeg daarby die pragtige nuwe kleure
wat nou beskikbaar is en jy het ‘n wentuin wat jou baie blomplesier sal
verskaf.

Onderskrifte vir die fotos: 
1. Van die nuwe soorte met die pragtige pienk aalwyn in die middel.
2. ‘n Groepering van aalwyne wat skakeer van roomkleur, geel, oranje tot
donker persrooi.
3. Jaap Viljoen by ‘n klompie plante wat hy te koop saamgebring het.
(Christa Kunz)

 

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply