DIE WONDERLIKE BOODSKAP VAN PINKSTER

 

Skriflesing : Johannes 14: 1-17
Fokusvers : Johannes 14: 16 en 17

In die laasste paar ure voor Vrydag se kruisiging sou aanbreek is Jesus en sy dissipels saam. Hy voer ‘n baie ernstige gesprek en hulle sukkel om te verstaan wat Hy bedoel as Jesus sê dat Hy weggaan. Die harte van die dissipels is vol ontsteltenis oor die onbegryplike dinge waaroor Jesus met hulle praat. Hoe is dit moontlik dat Hy nie sy Koninkryk nou gaan oprig nie, maar weg wil gaan. Waarheen? En dan is hulle alleen? Wat gaan van hulle word?

U kan verstaan waarom Christus in Joh. 14 vers 1 stel dat hulle nie ontsteld moet wees nie. Hoe kan Hy weggaan, hoe kan dit wees dat Petrus hom nog dieselfde nag drie maal gaan verloën?

Nou wil Christus sy dissipels vertroos. Maar nie net sy dissipels nie, hierdie troos gaan na sy Bruidskerk van alle eeue wat wag op die wederkoms. Jesus bemoedig en vertroos hulle deur te verseker dat Hy sal bid dat die ander Trooster sal kom. ‘n Ander beteken nie ‘n plaasvervanger nie, maar nog een! Twee Troosters:
– Christus
– En die Heilige Gees.

Twee Troosters – wat word daarmee bedoel?
Die woord “trooster” het ‘n baie wye betekenis in die Grieks. Dit kan beteken trooster, pleitbesorger, helper, advokaat en voorspraak. Die hoofgedagte is om iemand te hulp te kom, om iemand by te staan in ‘n regsgeding, om iemand se saak te bepleit by ‘n ander.

Dit beteken: Die een Trooster, Christus tree vir ons in by die Vader. Ons gebede word gehoor en verhoor. Die ander Trooster, die Heilige Gees woon in ons, Hy oortuig ons nie net van ons sonde nie, maar ook van ons verlossing en Hy maak ons opgewonde om ons Bruidegom met die wederkoms tegemoet te gaan. Dit is immers die Gees wat saam met die bruid (die kerk) roep : Kom Here Jesus! (Openb. 22:20)

Ons wat vandag in die spanning lewe, wat elke dag gekonfronteer word met sovele sake, beproewinge, eensaamheid, hartseer, kwellinge, aanslae van die Satan, elke dag se stryd teen die sonde en ellende. Luister mooi – In jou nood, eensaamheid, beproewinge, ellende, hartseer, siekte, kwellinge, worsteling – in dit alles het jy twee Troosters, albei naby jou – vir ons almal, kinders, volwassenes en hulle wat ver op jou lewenspad is. Mag hierdie wonderlike boodskap van pinkster jou geloof versterk en jou tot dankbare aanbidding bring.

Ds. Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstraat)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply