24 SEPTEMBER: ERFENISDAG

MET die oorgang na ‘n nuwe Suid-Afrika het die kabinet besluit dat daar ‘n dag (24 September) moes wees waarop Suid-Afrikaners, van watter bevolkingsgroepe ook al, hul eie erfenis moes gedenk. Dit het beteken dat niemand moes vergeet wie en wat hy is en waar hy vandaan gekom het nie. Elkeen moes op dié dag sy eie kultuur, geskiedenis en kultuurgeskiedenis in ere hou. Dit is toe Erfenisdag genoem.

Oud-president Mandela het self die woord “reënboognasie” bedink om Suid-Afrika se uiteenlopende kulture, gebruike, tradisies, geskiedenisse en tale te beskryf. Erfenisdag moes ‘n viering van daardie kleurryke verskeidenheid wees.

Dit is aan die Department van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, as beskermer van Suid-Afrika se kultuur, opgedra om jaarliks byeenkomste op ‘n nasionale vlak vir Erfenisdag te reël en te bestuur.

Die eerste Erfenisdag was op 24 September 1995. Erfenisdag gaan egter nie net oor die eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar veelal ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen. Elemente van nasionale eenheid, nasiebou, versoening en landspatriotisme moet dus benadruk word.

Die doel is ook om veral die jeug aan te moedig om Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis in ere te hou.

Erfenis is al omskryf as “dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, musiekstukke, mondelinge tradisies en museumversamelings saam met hul dokumentasie.”

As sodanig staan dit ook nie los van die politieke verlede van ons land nie. Soos oud-pres. Mandela op die tweede Erfenisdag in 1996 in ‘n toespraak gesê het: “As ons nasie inderdaad soos die spreekwoordelike feniks uit die as van verdeling en konflik moet verrys, moet ons erkenning gee aan diegene wie se onbaatsugtige werke en talente toegewy was aan hierdie doelwit van ‘n nie-rassige demokrasie.”

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply