HESSEQUA MUNISIPALITEIT KOMMUNIKASIE

Dit word weer onder die publiek se aandag gebring dat daar in terme van die Hessequa Kommunikasie Beleid verskillende kommunikasie media is waardeur met die publiek gekommunikeer word of waardeur die publiek met die munisipaliteit kan kommunikeer.

Sake van algemene belang word as item by Wykskomitee vergaderings bespreek. Dit is dus ‘n uitstekende medium om met wyksraadslede kontak te maak om op die manier sake van algemene of groter belang vir ‘n spesifieke wyk onder die aandag van die munisipaliteit te bring.

Die maandelikse nuusbrief wat saam met die rekening versprei word bevat ook waardevolle inligting. Indien daar verkies word om die nuusbrief elektronies te ontvang, registreer by die volgende e-pos adres accounts@hessequa.gov.za.

Om op hoogte te bly van situasies in ‘n spesifieke wyk soos bv padsluitings, beplande kragonderbrekeings ensovoorts word ook per sms gekommunikeer mits daar op die sms databasis geregistreer is. Daar kan direk op die munisipale webtuiste www.hessequa.gov.za geregistreer word of deur by alle munisipale toonbanke ‘n sms registrasievorm te voltooi.

Die plaaslike radiostasie, gedrukte pers, pamflette en kennisgewings asook kommunikasie met sakekamers is ook kommunikasie mediums vir algemene belang vir die gemeenskap. Besoek ook gerus die munisipale webtuiste vir eerstehandse inligting en munisipale nuus.

Hou ook die munisipale facebook blad dop vir belangrike en relevante inligting Dit is egter belangrik om te onthou dat daar nie op enige ander sosiale media, soos byvoorbeeld privaat facebook groepe, gekommunikeer word nie en sosiale media nie as kommunikasiemetode met die munisipaliteit erken word nie.

Individue wat klagtes aan die munisipaliteit wil kommunikeer of navrae wil rig kan dit as volg doen naamlik per skrywe, gerig aan die Munisipale Bestuurder, Posbus 29 Riversdal 6670 of e-pos info@hessequa.gov.za. Om op laasgenoemde wyse te kommunikeer word verseker dat daar ‘n unieke verwysingsnommer toegeken word om die vordering van die klagte of navraag op die munisipaliteit se stelsel te volg.

Kontak die munisipaliteit vir enige verdere inligting of navrae oor die kommunikasie beleid susan@hessequa.gov.za

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply