PERSOONLIKHEID VAN DIE WEEK – Roodt Cronje (Visvywerkundige)

Na elke storm verstrooi die geweldige en kragtige branders visvywerklippe langs Stilbaai se suidelike kus en op die wesstrand. ‘n Week of twee later is die klippe weer netjies reggepak. Inwoners van Stilbaai en besoekers wonder al vir baie jare wie die vywers in stand hou. Meeste van ons ken nie eers die massiewe, eintlike vywers onderkant Bosbokduin nie. Die man wat vir hiérdie vywers sorg is Roodt Cronje en andere.

Wanneer het jy begin om hierdie taak te verrig?
Ek was ses jaar oud en kon soggens nie vroeg genoeg opstaan om saam met my pa die visvywers te gaan pak nie.

Is daar mense wat jou bystaan?
Daar was eers ‘n aantal boere wat die vywers begin bou het en elkeen het sy eie vywer in stand gehou. Die boere en eienaars het die vangste onder mekaar verdeel. Die vis is in streepsakke na hul bakkies oor die los sand gedra. Daar was tot tweehonderd harders in so ‘n streepsak.

Hoe lank neem dit om die vywers na springgety weer te herstel?
Dit kan drie tot vier weke neem.

Vind jy soms nog visse in die vywers?
Ja, mosselkrakers, harders, kolsterte en elwe.

Hoekom doen jy dit?
Om vywers te pak is my passie. As dit in jou bloed is, is pak ‘n plesier. Mens kan nie sonder kennis pak nie. Met sakwater kan jy pak. Sakgety hou ses ure dan groei die water weer. Al die reguit mure wat mens hier sien is my handewerk. Die werk is interessant. Mens weet nooit wat in die volgende vywer is nie – dis soos ‘n lucky packet. Twaalf jaar gelede was die muur by Wonderwerk so hoog dat nie eers ‘n os daaroor sou kon sou kon spring nie.

Het jy al ooit gehengel?
Ja, ek het met ‘n visstok vis gevang maar ek het my tevrede gevang en nou is dit ek en die vywers.

Vertel meer van die visvywers.
Die eintlike visvywers is by Noordkapperhoek/Rooisandkoppe.
Daar is ook vywers wes van die hawe. Hulle word egter nie meer versorg nie. Vandat Stilbaai se ligte oor die see skyn, het die harders, wat ‘n nagvis is en bo-op die waters swem, opgehou om hier te kom. Die vywers is dus aan die natuur oorgelaat. Roodt het verlede jaar, 2016, vrywilligers gevra om te kom help om die hawe-vywers te herstel. Hy het dit op die ou end self gedoen. ‘n Taai en toegewyde man hierdie.
Vir vis gaan dit oor donker. ‘n Harder loop vir ses maande van einde Mei tot Oktober. Dit is dan vangtyd vir die kontrei. Die mure moet egter die hele jaar in stand gehou word anders verwaarloos dit. Die see maak die mure plat. Die gate in die muur raak groter daarom moet daar gereeld gepak word.
(Net toe kom twee manne van seevissery hier by ons aan. Hulle belet die mense wat hierdie oggend, 18 September, die vywers pak, om van die visse te neem. Die visse-polisie is glad nie tegemoetkomend nie. Later kom daar nog ‘n man met ‘n maatstok.) Visse word nie meer geweeg nie maar gemeet.

Wat maak hulle met die baie visse wat hulle aantref en klaar meet?
Hulle gooi dit terug.

Vir wie?
Vir die hengelaars en die diepsee vissermanne.

Het die weerpatrone verander die afgelope jare?
Ons kry minder reёn. Die rivier het lanklaas afgekom. Gewoonlik kom hy tot drie keer per jaar af.

Uit watter rigting kom Stilbaai se reёn gewoonlik?
Uit die suid-weste of die suid-ooste. Dit het soms agt dae lank gereёn dan kom die reёnvlae soos gordyne oor die rivier.

Wat is jou lewensfilosofie?
Gee en vir jou sal gegee word. Die Vader gee vir ons visse. Ons gee dit weer aan ander. Destyds kon ons nog vang net soveel as wat ons kon. Daar was op ‘n keer 3500 harders in die vywers. Ons het dan maats gebel om te kom deel in die oes. Daar was nog altyd kos op die tafel en die pan sal kan loop.

Vir oulaas:
Met die wegstap van die bankie af, sien ons grysbokkiespore oor die sand. Hulle is agter die heerlike soet, vars water aan wat deur die klippe syfer beduie Roodt.
Hy roep vir Thabo. Hy moet net gou die laaste klip pak. Roodt gaan vanjaar afgee.
Die vywers waaraan Roodt sewentig jaar lank gewerk het, is nou in die hande van seevisserye.
Roodt sal enigiemand wat wil, met sy kierie wys hoe die klippe gepak moet word. Hy het ‘n skatkis vol visvywerstories wat gaan oor hoe dinge in die verlede gedoen is, oor mededeelsaamheid en regverdigheid en so aan.

Roodt Cronje: 028 754 1624

Thea Scheepers

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply