Maak ñ nota

Hierdie jaar tree die Stilbaai Mannekoor, onder leiding van Naomi van Schalkwyk, weer op in die NG Kerksaal Oos, alles ten bate van Jagersbosch en Huis Stilbaai.

DIE TWEE OPTREDES VIND PLAAS OP 10 EN 11 NOVEMBER ’17.

Volwassenes: R60
Kinders: R40

(Kaartjies is beskikbaar by Jagersbosch, Cups Café en Lillipit, asook by koorlede.)

Hannlie Gee Om Kospakkies

In November en Desember gaan Die Kospakkie aan ongeveer 500+ minderbevoorregte kinders in die Suid-Kaap ʼn klein Kersgeskenkie gee. Ons benodig die volgende items asb. om ʼn sukses van hierdie projek te kan maak.

Benodig vir die partytjie:
Lekkergoed (Sweets bv. toffies, suigstokkie, marshmallows, Fizzers, ens.)
Skyfies (Chips bv. klein Niknaks pakkies wat in sakke van 50 verkoop word)
Koeldrank (Verkieslik in klein boksies, botteltjies, sakkies – aanmaak koeldrank is ook welkom)
Springmielies (Popcorn)
Koekies (Klein koekies)
Koek- Kolwyntjie mengsel (Die wat in bokse kom, sodat ons cup cakes daarvan kan maak)
Plastiek sakkies (Ongeveer die grootte waarin jy brood koop).
Enige ander items is ook meer as welkom.

Benodig vir die geskenke (seuns & meisies):
Geskenkpapier of geskenksakkies (nuut of gebruik – die wat gebruik is gaan ons net weer glad stryk)
Kleefband (Sellotape)
Tandepasta
Tandeborsel
Koekie seep
Waslap
ʼn Speelding (sien lys onder)
Skryfbehoeftes (sien lys onder)
Algemene skool benodighede (sien lys onder)
Enige ander items is ook meer as welkom.

Idees vir ouderdom-groepe:
0-3 jaar = ʼn Speelding bv. pop, karretjie
4-8 jaar = Potloodsakkie/blikkie, vetkryte, skerpmaker, liniaal, A5 oefen boek, stompneus skêr, gekleurde papier, kosblik met ʼn koeldrank bottel, plakkers, inkleurpotlode, gom uitdraai kryte.
9-10 jaar = Woordeboek, olie pastelle, HB potlode, Balpunt pen, plastiek oortreksels vir boeke, sakrekenaartjie, Potloodsakkie/blikkie, vetkryte, skerpmaker, liniaal, A5 oefen boek, stompneus skêr, gekleurde papier, kosblik met ʼn koeldrank bottel, plakkers, inkleurpotlode, uitdraai kryte, gom.
11-18 jaar = Highlighters, wiskunde-stel, dagboek, notaboekie, Potloodsakkie/blikkie, vetkryte, skerpmaker, liniaal, A5 oefen boek, stompneus skêr, gekleurde papier, kosblik met ʼn koeldrank bottel, plakkers, inkleurpotlode, gom, gekleurde penne, veselpenne (“koukies”).

Skenkings kan na die volgende afset punte geneem word:

RIVERSDAL: PostNet, Winkel 1, Dicksonstr 12, Riversdal, Amanda Louw 074 323 7813
STILBAAI: Bellevue Resort, Osler str 8, Stilbaai-Oos, Christa Uys 028 754 1505,
ALBERTINIA: SMS of bel vir (Hannelie) by 073 543 8778
GOURITSMOND: Hanlie Koffie Stories, Hanli Venter 082 854 3105. 0f Carina Marias 071 185 2588.

ADULT EDUCATION TRAINING (AET) GRADEPLEGTIGHEID

Die 2016/2017 Adult Education Training (AET) gradeplegtigheid het op 6 Oktober 2017 te Riversdal plaasgevind.

Die spoggeleentheid is aangebied deur Hessequa Munisipaliteit in samewerking met diensverskaffer Siyaphambili Training Solutions.

Altesaam het sestien munisipale amptenare hul AET sertifikate ontvang vir verskillende vakke wat voltooi is.

Tydens ʼn vaardigheidsoudit van die munisipaliteit se amptenare in 2012, is bevind dat 24% van die werkerskorps nie Graad 9 voltooi het nie. Die munisipaliteit se Menslike Hulpbronne afdeling het die afgelope drie jaar fokus op geakkrediteerde onderrig van die amptenare geplaas en is ʼn kontrak met ʼn diensverskaffer gesluit om amptenare die geleentheid te bied om hul Graad 9 kwalifikasie te verwerf.
Die munisipaliteit het by Local Government Sector Education and Training Association (LGSeta)aansoek gedoen vir befondsing en is die geleentheid van na-ure opleiding beskikbaar gestel aan belangstellende amptenare.

Verskeie amptenare wat reeds hul Graad 9 verwerf het, het ook die geleentheid aangegryp om hul Wiskunde en Engelse kennis/vaardighede te verbeter. Tydens die drie jaar periode, is familielede van amptenare, ook die geleentheid gebied om deel te vorm van die program en het teweeg gebring dat amptenare saam met hul vrou/man of kind hierdie leerprogram kon voltooi.

Munisipale Opleidingsbeampte Lemona Kleinhans noem dat amptenare twee keer per week, na-ure klasse bygewoon het, maar dat die verskeie opofferings hulle nie gestuit nie.
Die gemiddelde slaagsyfer vir die drie jaar periode was 85%.

Uitvoerende Onderburgemeester, Raadslid Johannes Hartnick, Munisipale Bestuurder Johan Jacobs en Direkteur Korporatiewe Bestuur, Marina Griesel het die geleentheid namens die munisipaliteit bygewoon.

Johan Jacobs noem dat die munisipaliteit voorwaar trots is op die amptenare wat van hierdie geleentheid gebruik maak en wens almal geluk met hul onderskeie prestasies.

KORREKTE MANIER OM KLAGTES AAN TE MELD

Hessequa munisipaliteit in samewerking met die plaaslike SAPS en belanghebbendes neem positiewe stappe om die kwessie van hawelose bedelaars, wat ‘n oorlasfaktor skep, aan te spreek.

As deel van ʼn verbeterde kliëntediens prosedure, het Hessequa munisipaliteit verskeie kommunikasie kanale geskep waar klagtes aangemeld kan word.

Besoek munisipale kantore
Skakel 028 713 8000
Epos die betrokke departement
Per skrywe aan die Munisipale Bestuurder by POSBUS 29, Riversdale, 6670.

Hier volg ʼn voorbeeld van hoe die kliëntediens prosedure werk:

ʼn Voorval in Stilbaai waar rommel deur bosslapers gelos is, is deur die epos opsie aangemeld.
Vrydag, 06/10/2017, ontvang die munisipaliteit die klagte en gepaardgaande foto’s via e-pos.
Vrydag, 06/10/2017, ‘n ontvangserkenning epos word vanaf die munisipaliteit aan die kliënt gestuur.
Maandag, 09/10/2017 word die klagte geallokeer aan die Tegniese afdeling vir onmiddellike aandag.
Maandag, 09/10/2017 word ʼn skoonmaakspan uitgestuur asook Beskermingsdienste om moontlike brandgevare te ondersoek.

Formele munisipale kommunikasie kanale verseker dat daar ‘n unieke verwysingsnommer toegeken word om die vordering van die klagte of navraag op die munisipaliteit se stelsel te volg. Deur die korrekte kliëntediens kanale van die munisipaliteit te volg, kan onmiddellike aksie geneem word en die nodige terugvoer verskaf word.