BESIGHEIDS FOKUS – Nasionale Houthuise :Bring jou idee, ons bou dit!

Beskryf u besigheid in ‘n kort paragraaf:
Ons bou houthuise, doen restourasies,aanbouings en installering van kombuise ens.

Wanneer het u besigheid begin?
Ons het ons besigheid Aug 2017 gestig, maar werk al 12 jaar in die bedryf.

Wat het u aangespoor om u besigheid te begin?
Geleentheid gesien vir goeie vooruitsigte en om diens te lewer vir mense teen bekostigbare pryse.

Op watter segment van die gemeenskap is u besigheid gemik?
Ek dink enige segment van die gemeenskap, want ons probeer elke mens help om hul droomhuis of kombuis te bewaarheid.

Watter produkte/dienste bied u aan?
Ons bou goeie gehalte houthuise en installeer kombuise volgens u spesifikasies, doen restourasies en algemene bouwerk.

Watter voordeel het u bo u mededingers?
Ons bou en werk teen bekostigbare , mededingende pryse om almal se sak te pas.

Persoonlikehoogtepunte/ suksesse/ prestasies?
Suksesvolle besighede sedert 2005.

Wat laat u besigheid bo ander uitblink?
Persoonlike diens en toesig. Ons loop die ekstra myl om kliënte gelukkig te maak en te hou.

Voltooi die volgende stellings:
“Ondervinding het my geleer dat ……………..”
Ondervinding het my geleer dat dit belangrik is om jou drome te volg en goeie gehalte, eerlike diens te lewer.

 

“In die toekoms sal my besigheid die volgende (aan) bied ………….”
In die toekoms sal my besigheid die volgende bied – Bekostigbare diens vir kliënte en ook om ‘n goeie gehalte diens.

Die belangrikste boodskap wat jy met die gemeenskap wil deel?
Daar is besighede wat eerlike gehalte diens lewer en ook daardie ekstra myl sal loop vir hul kliënte.

 

 

 

BESIGHEIDS FOKUS – National Sea Rescue Institute (NSRI) Stasie 31

Die NSRI, (Nasionale Seereddings Instituut), het landswyd ‘n goeie reputasie. Ons in Stilbaai weet almal van die groot NSRI gebou wat wes van die hawe staan. Dit is Stasie 31,en vir ons ‘n baken van veiligheid. Ons kan in noodsituasies altyd op die NSRI en sy personeel staatmaak. Met die oog op die naderende einde van die jaar vakansie, wanneer leerlinge, studente, skoliere, kinders, mammas en pappas, oupas en oumas die strande vol sit, is veiligheid van diesulkes in goeie hande.

Arrie Combrinck, Stasie 31 se bevelvoerder, het die volste vertroue in sy span se vermoё om elkeen se veiligheid te verseker.

Hoe diep mag julle in die see ingaan om drenkelinge te red?
Wel, swemmers raak gelukkig nie te diep in die see in die moeilikheid nie maar vir vissersbote mag ons tans nie meer as veertig seemyl, (74 kilometer) van die kus af wees as ons uitgaan nie. Afhangende van waar die noodgeval is, sal die NSRI die stasie naaste aan die nood, tot aksie roep.

Hoe weet julle waar die boot hom bevind?
Daar is kaarte wat lank gelede gekarteer is en wat elke paar jaar opgegradeer word, wat ons in die stasie se operasionele kamer gebruik. Die breedtegraad en lengtegraad word deur die boot wat in die moelikheid is, deurgegee met óf radio óf met selfoon (glo dit ja!) na óf die NSRI óf ‘Cape Town Radio’. Dit bepaal dan die posisie van die boot in nood, en van dié posisie af kan ons bereken hoe lank dit ons sal neem om daar te kom.

Watter tipe boot gebruik julle as reddingsboot?
Ons het tans ‘n 7,3m Gemini RIB (Rigid Inflatable Boat), en hoop om vroeg volgende jaar ‘n 8,5m RIB te ontvang. Die boot kan tot 8 persone, insluitende die bemanning, akkomodeer. Alle bemanning op die boot is noodhulp gekwalifiseer.

Watter soort toerusting word op die boot gebruik?
Afhangende van die aard van die redding, word toerusting op die boot gepak spesifiek met die tipe noodgeval in gedagte.Standaardtoerusting op die boot is; suurstof, sleeptou, mediese sak, komberse en ‘space blankets’. Crystal Stream is ons waterborg, so daar is altyd vars water beskikbaar. In erge mediese noodgevalle,soos hartaanval, beroerte en beenbreuke sal ons byvoorbeeld die AED(Automated External Defibrillator) saamneem en langer spalke.

Raak julle soms moedeloos as iemand wat julle red, moedswillig is?
Dit is ontstellend as die ernstige aard van so ‘n redding nie ervaar, erken of besef word nie. Dit sal net tot almal se voordeel wees as elkeen wat die see betree, dit verantwoordelik doen.

Wat is julle grootste kopseer?
Onverantwoordelike optrede van verbruikers op see en op paaie.

Wie kom die meeste in die moeilikheid – vissermanne of swemmers?
Dis vyftig-vyftig. Vissermanne, of enige persoon wat die see ingaan, moet veiligheidsreёls handhaaf. Vissermanne is sterk onder die indruk van die reёls maar beland soms onverwags, deur die onvoorspelbaarheid van die natuur, in die moeilikheid.

Hoe word julle,hier op land, bewus daarvan as ‘n boot en bemanning op die see in die moeilikheid is?
Daar is ‘n hele paar maniere waarop ons gekontak kan word. Die publiek kontak ons direk as dit plaaslike nood is. Ons word ook deur NSRI Hoofkantoor in Kaapstad gekontak. As hulle geskakel word deur die persone in nood, sal hulle die naaste stasie wat kan reageer, in kennis stel. Ons susterstasies by Witsand en Mosselbaai sal ons ook kontak asook Mosselbaai hawebeheer. Die plaaslike polisie kontak ons veral vir noodgevalle op land.

Wat is die stasie se reaksietyd?
Vandat ek die oproep ontvang, tot die boot in die water is, neem ongeveer 10 minute.

Hoeveel personeel is die hele jaar en vakansies aan diens?
Ons is agtien lede. Al die lede van die NSRI is vrywilligers en meeste van hulle is werkende mense. Ons is altyd paraat en bereid om van diens te wees.Ons kan nie skofte werk nie, want ons het nie genoeg personeel nie.
Vertel van die dienste en aktiwiteite wat julle aan leerlinge plaaslik bied om deel te wees van julle span.

Ons het ‘n ‘junior bemanning’ wat dieselfde opleiding ondergaan as die senior manne. Hulle opleiding is egter nie so intens nie. Die opleiding behels navigasie, noodhulp, basiese seemanskap, reddingstegnieke en touwerk.

Hoe oud moet ‘n kind wees as hy deel wil wees van hierdie edele roeping?
Vanaf tien jaar tot en met Graad 7 vir die junior groep, maar na Graad 7 skuif ons hulle oor na die seniorgroep vir meer intensiewe opleiding.Op sestien jaar kan hulle reeds ‘n volledige opgeleide bemanningslid wees.

Keur julle die kinders wat deel wil wees van die NSRI junior program?
Ons het ‘n afsnypunt ten opsigte van getalle. Hulle moet ‘n liefde vir die see hê, en hulle moet darem kan swem ook! ‘n Sin vir humor is belangrik!

Het NSRI (Nasionaal) ‘n bestendige inkomste?
Ons het baie donateurs wat debietorder skenkers is, asook korporatiewe skenkers.
Toevallige skenkers en die skippiebussies wat oral op winkels se toonbanke staan, is nogal’n groot bron van inkomste. Daar is ook ‘n bemarkingspan wat uit Kaapstad werksaam is.

Enige aktiwiteite vir fondsinsameling?
Op 31 Desember 2017 het ons weer ‘n pretdraf van 10 kilometer wat reeds vir die laaste 11 jaar aangebied word. Ons begin en eindig by die stasie. Hou plaaslike media dop!

Is hierdie werk wat jy doen vir die NSRI en trouens vir ons hele land se mense steeds ‘n avontuur?
Dit bly altyd ‘n avontuur, maar dit is ‘n verantwoordelike roeping.

Kontaknommer vir NSRI Stilbaai:
082 990 5978
Kontaknommer vir Arrie Combrinck
083 454 6945

(Thea Scheepers 0824464058)