OORDENKING

SKRIFGEDEELTE : Psalm 125
FOKUSGEDEELTE : Psalm 125: 2

MAG DIE HERE IN 2017 RONDOM JOU WEES

Na al die vrolikheid en die ge-“happy” van die nuwe jaar se begin, staan ons voor die werklikheid van nog ‘n jaar met al sy uitdagings. Wat hou die nuwe jaar vir ons in? Gesondheid of siekte? Rykdom of armoede? Reën of droogte? Vreugdes of hartseer?
Wat hou my vas, wat gee my moed vir die nuwe jaar? Die enigste werklike sekerheid wat die gelowige het is dat die HERE rondom ons is. Dit is die troos van Psalm 125. Hierdie psalm is gesing deur pelgrims wat op pad was na Jerusalem om daar te gaan aanbid. Met paasfees moes hulle hulle tiendes na die tempel toe bring, maar ook geld saamvat om ‘n offer aan die HERE te bring. Die diere het hulle gekoop op die tempelterrein. Op pad na Jerusalem was daar baie gevare, onder andere rowers wat hulle wou beroof. Dan sien hulle Jerusalem! Hulle sien die stad wat besonder goed beskerm was met sy hoë stadsmure en sy ligging op ‘n berg. Die stad was strategies so geplaas en gebou dat dit een van die moeilikste stede van die outyd was om in te neem. Goed beskerm deur die berge was dit vir vyande wat berg-op moes veg, baie swaar en gevaarlik.
As die pelgrims dan Jerusalem sien en hulle besef dat die HERE hulle op hulle pad veilig gelei het, dan sing hulle : Rondom Jerusalem is berge, so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid (1933/53 vertaling). Dit is ‘n lied wat met groot blydskap gesing is, ‘n lied waarin die bewarende hand van die HERE geloof is.
Ons pelgrimspad vir die jaar 2017 lȇ voor ons. Op hierdie pad is daar benewens die mooie en goeie, ook baie gevare, swaar, beproewinge, nood. Hoe jou pad gaan loop in 2017 weet jy nie, maar van een saak kan jy verseker weet – Die HERE is rondom sy kind. Daar is geen kant wat oop is nie, Hy is rondom jou om jou te beskerm en te bewaar.

My bede is : Mag die HERE elke dag van 2017 rondom jou wees.

Ds Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstraat)  

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply