HONDELISENSIES IN HESSEQUA MUNISIPALE AREA

Die volgende inligting en feite aangaande hondelisensies word graag onder die aandag van die publiek en vakansiegangers gebring.

Artikel 20(1)(a) van die Hessequa Munisipaliteit se Verordening Insake Openbare oorlaste en oorlaste wat spruit uit die aanhou van diere; bepaal dat iemand wat die eienaar van ‘n hond is mag: “…nie…sodanige hond aanhou tensy ‘n lisensiefooi wat deur die munisipaliteit bepaal is betaal is nie en sodanige persoon moet op aanvraag van ‘n gemagtigde beampte die kwitansie vir sodanige betaling toon”

Hierdie tariewe word jaarliks hersien en word – soos enige ander munisipale tarief- vir kommentare en insette ter tafel gelê en word die publieke deelname proses gevolg voordat die tariewe teen einde Mei van elke jaar finaal deur die Raad goedgekeur word. Die tariewe kan op die munisipale webtuiste www.hessequa.gov.za nagevors word.

Hondelisensie is jaarliks voor einde Augustus betaalbaar. Kennisgewings om die publiek hieraan te herinner en ook inligting oor die tariewe, word binne die munisipaliteit se kommunikasiebeleid versprei. Die relevante verordening wat hondelisensie reguleer is sedert 23 Maart 2012 reeds in plek en word so toegepas. Dit blyk egter dat die publiek steeds onigelig is hieroor.

Bovermelde verordening word deur die Wetstoepassingsdepartement as projek bestuur waarvan die eerste fase die uitdeel van pamflette is om bewusmaking te bevorder. Die opvolg fase is om hondelisensies na te gaan en ‘n tweede geleentheid te bied om die relevante lisensie uit te neem. Die finale fase van die projek is om teen die honde eienaar op te tree wie steeds in versuim is. In alle opsigte word aan die honde eienaar ‘n billke geleentheid gebied om ‘n lisensie te bekom. Die projek word in alle dorpe uitgerol.

Die jaarlikse begroting vir dierebeheer se uitgawes oorskry die inkomste by verre. Dit word beklemtoon dat die munisipaliteit nie dierewelsyn hanteer nie –dit word deur onafhanklike organisasies hanteer alhoewel daar ook jaarliks vir bydraes tot spesiale sterilisasie of “dip” projekte begroot word. Die munisipaliteit se dierebeheer funksie sluit onder andere in die skut van diere, uitsit van geskutte honde en katte wat nie opgeeis word nie of diere wat vrywillig oorhandig word deur deernis huishoudings met die versoek om die dier te laat uitsit.

Daar word van huishoudings wat ‘n hond wil aanhou verwag dat die eiendom behoorlik omhein sal wees. Hierdie bepaling het onder andere ten doel om te verseker dat die dier nie ‘n gevaar of oorlas vir ander mense is nie, nie ander se eiendom en tuin beskadig nie of in openbare plekke en die straat kan afdwaal nie.

Ingevolge art 29 van dieselfde verordening het die munisipaliteit die mag/bevoegdheid om enige persoon of klas van persone vry te stel van enige of al die vereistes en mag dit enige ander vereistes oplê wat dit as geskik beskou. Vakansiegangers sou byvoorbeeld ‘n “klas van persone” wees wat kwytgeskeld word van die uitneem van hondelisensies of die vereiste dat ‘n vakansiehuis wat gehuur word omhein moet wees.

Dit is voor die hand liggend dat ‘n vakansieganger nie ‘n gevaarlike groot hond wat nie binnenshuis gehuisves kan word vry sal laat rondloop indien die erf nie omhein is nie. Dit sal egter steeds van die besoeker aan ons munisipale area verwag word, soos van alle honde eienaars verag word, om te alle tye ten volle beheer oor die dier uit te oefen om te verseker dat die hond byvoorbeeld nie sonder ‘n leiband in openbare plekke beweeg nie.
Art 19(2) van gemelde verordening bepaal dat: …niemand mag ‘n hond binne 50 meter vanaf ‘n kennisgewing wat die teenwoordigheid van die hond verbied bring of toelaat dat dit daar gebring word nie” Die implikasie hiervan is dat daar nie spesifieke afgesperde openbare oop ruimtes is waar honde vrylik en sonder ‘n leiband mag beweeg nie. Daar is wel gebiede buite die blouvlag strande en waar daar nie kennisgewingborde op strande aangebring is waar geen wetstoepassing plaasvind nie. Die algemene reël is egter steeds dat honde nie ‘n oorlas vir ander mag veroorsaak nie.

Vir enige verdere navrae oor die bewusmakings projek of aan hou van diere kan u kontak maak

met die Hoof Beskermingsdienste mnr A Voss by vossie@hessequa.gov.za of die munisipale webtuiste www.hessequa.gov.za besoek.

Hileen Gee Om- Die Kospakkie

Die Kospakkie het enige vorm van kruideniersware nodig soos byvoorbeeld enige kos, vars produkte soos groente & vrugte, vleis of vis, toiletware, sanitêreware, skoonmaakmiddels, baba-benodighede. Ek heg ook ʼn lys van kruideniersware aan wat gebruik kan word SLEGS vir ʼn riglyn.Image result for kospakkies

Dan benodig hulle ook nog steeds wol, vir hulle werkskeppings-projek. Dit kan enige soort wol wees, selfs afval wol en ou wol items wat hulle kan los trek is ook meer as welkom.
Skenkings kan na die volgende afset punte geneem word:

RIVERSDAL: PostNet, Winkel 1, Dicksonstr 12, Riversdal (Kontak persoon – Amanda Louw) Tel: 074 323 7813

STILBAAI: Bellevue Resort, Osler str 8, Stilbaai-Oos (Kontak persoon – Christa Uys) Tel: 028 754 1505, Tye: Maandae tot Vrydae vanaf 09h00 – 12h00 en 14h00 – 16h00

ALBERTINIA: SMS of bel vir Hannelie by 073 543 8778 (Weens veiligheidsredes sy gebel word, want daar is nie ʼn besigheidsadres waarheen die publiek die skenkings heen kan neem nie).

GOURITSMOND: Hanlie Koffie Stories, Melkhoutweg 5, Gouritsmond (Kontak persoon – Hanli Venter) Tel: 082 854 3105.

GOURITSMOND: Gouritzie Nuus, Steenbras str 44, Gouritsmond (Kontak persoon – Carina Marias) Tel: 071 185 2588.

MOSSELBAAI: SFM Radio (Suid-Kaap Radio) Skakel vir Lynette van Zyl vir adres by 083 409 4800 of 044-692 0350.

HARTENBOS: Nadia Jardim 072 212 8645 (Weens veiligheidsredes sy gebel word, want daar is nie ʼn besigheidsadres waarheen die publiek die skenkings heen kan neem nie).

GEORGE: SFM Radio (Suid-Kaap Radio, Fairview Office Park, Eerste Straat.) Skakel vir Lynette van Zyl vir adres asook vir die kontak persoon by 083 409 4800 of 044-692 0350.

Die Kospakkie het ook baie dringend finansiële hulp nodig en op versoek van die skenker sal Die Kospakkie ʼn SARS 18A sertifikaat uitreik, maar dan moet die skenker net sy/haar voorletters & van asook sy posadres e-pos na Die Kospakkie toe stuur per e-pos na:
hannelie.skenkings@gmail.com

Hulle bankbesonderhede is soos volg:
Rekening Naam: Abrina4858
Bank: FNB
Rekening Nommer: 62-59-84-53-513
Tak Kode: 254-005
Verwysing: Southern Cape Branch

Vanaf 25 November tot 23 Desember gaan Die Kospakkie ook Kersgeskenke uitdeel aan ongeveer 500+ minderbevoorregte kinders in die Suid-Kaap en daarvoor benodig hulle ook BAIE skenkings nie net vir die partytjie nie, maar ook om Kersgeskenke te kan gee. (Sien ook aangehegte lys).

Hannelie het ook bevestig dat die Suid-Kaap Forum koerant se korrespondent & fotograaf Heinrich Fortuin die dag van die 25 November 2017 die foto’s gaan neem van die uitdeling van geskenke by die Albertinia Kindersorg en Protea Kleuterskool se partytjie.

Kindersorg (veral Albertinia Kindersorg) is een van die grootste instansies wie Die Kospakkie ondersteun en as jy in hulle skenkingsboek kyk sal jy omtrent net Hannelie Gee Om se naam daarin sien.

Die publiek kan ook die webtuiste op die internet besoek vir meer inligting: www.kospakkies.co.za

GENADE IS GENADE ALLEEN

Dwarsoor die hele wȇreld vier kerke uit die Protestantste Hervorming vanjaar die geboorte van die Hervorming of Reformasie. Albei woorde beteken om weer terug te vorm na die oorspronklike. Daar word teruggekeer na die Woord van God.

Waaroor het dit gegaan? Die Pous het aflaatbriewe laat verkoop. Die begrip aflaat is in die Gereformeerde wêreld onbekend. In die Rooms Katolieke Kerk is dit baie bekend, vandag nog. Die Engelse woord vir aflaat is indulgence. Dit kom van die Latynse indulgeo. Dit beteken: guns bewys, genadig wees, toegee. In die Rooms Katolieke Kerk het aflaat ‘n lang geskiedenis. Dit is beskou as deel van boetedoening oor sondes. Boetedoening is een van die sewe sakramente in die Rooms Katolieke Kerk.

Die sakrament van boetedoening bestaan uit vier onderskeibare aksies:

die sondaar erken sy skuld deur te bieg;
die priester lê ‘n straf op;
die straf word betaal;
die priester spreek vry (absolusie).

In die loop van die Middeleeue het die sakrament van boetedoening al meer en meer in ‘n juridiese proses ontwikkel. Die priester wat die bieg aanhoor, was meer regter as pastor. Vryspraak kan alleen plaasvind langs die weg van straf wat jy moet dra. Die strawwe het enigiets behels soos die doen van allerhande goeie werke, die opsê van gebede en selfkastyding. Jy moes voel dat jy vir jou sondes boet.
Later het vagevuurstrawwe bygekom. Dit beteken dat jy ná jou afsterwe nog steeds sekere strawwe moet dra en skuld moet betaal voordat daar volkome vryspraak kom en jy in hemelse heerlikheid opgeneem kan word. Jou siel brand in vuur om gereinig te word van alle oorblywende sondes wat jou aankleef.

In ‘n nóg later stadium van die Middeleeue het die inhoud van die kerklike strawwe verander. Die betaling van straf het finansieel geword. Jy betaal met geld om van jou straf ontslae te raak. Straf word dus ‘n geldboete. Hoe erger die sonde, hoe hoër die boete. Die betaalbewys vir die geldboete is ‘n aflaat of aflaatbrief genoem.

‘n Mens kan aflate vir jouself koop, maar ook vir ander. Daar was selfs ‘n moontlikheid om aflate te koop vir mense wat reeds gesterf het en nog in die vagevuur vir hulle sondes moet boet. Sodra die geld betaal en die aflaatbrief bekom is, kan die siel van die afgestorwene uit die pyniging van die vagevuur ontsnap en in die hemel opgeneem word.

As ons, mense met ‘n Gereformeerde of Protestantse grondslag en erfenis, hierdie dinge hoor, klink dit vir ons uiters eienaardig en verkeerd. Vir die kerkvolk van die Middeleeue was dit normaal om hiermee saam te leef. As jy sonde doen, gaan bieg en betaal jy. As jy klaar betaal het, word jy vrygespreek. (Geskiedenis gedeelte met erkenning aan dr. Gerard Meijer)

Vir ryk mense was dit maklik – jy bely en betaal en gaan aan met jou lewe sonder enige bekering. Vir arm mense het dit ‘n ondraaglike las geword om hierdie geldboetes met moeite te betaal. Van bekering en ‘n heilige lewe het daar egter niks van gekom nie.

Intussen het Maartin Luther as ‘n priester in die Rooms Katolieke Kerk baie erns gemaak met die bestudering van die Bybel. Nadat hy in April 1507 as priester georden is, het die Augustynse orde besluit dat hy teologie moet studeer. In 1512 behaal hy sy doktorsgraad in teologie aan die Universiteit van Wittenberg en word as ‘n professor in Bybelkunde aangestel. Hy maak ‘n groot ontdekking:- die mens word alleen salig deur genade en nie deur verdienste nie! (Rom. 1:17 ; Rom. 3:21-28 en Psalm 71:2).

Reeds in preke van 1516 spreek Luther hom sterk teen aflaathandel uit. Hy skryf oor die verkeerdheid van die geld-aflate aan die biskop van Brandenburg, in wie se ressort die gemeente van Wittenberg geval het.

Bogenoemde kort geskiedenis is genoeg om duidelik te maak dat die aflaatstelsel vir Luther ‘n groot probleem was. Toe die Dominikaanse monnik Johan Tetzel die sogenaamde jubileumaflaat van pous Julius II in Wittenberg begin verkoop het, was die gort gaar. Geld wat met dié besondere aflaat ingesamel is, was bedoel vir die bou van die nuwe St. Pieterskerk in Rome.

Op 31 Oktober 1517 spyker Luther sy bekende 95 stellinge teen die kerkdeur van die Wittenberg Kasteelkerk vas. ‘n Groot deel van Luther se 95 stellings het betrekking op die betaling van aflate. Dit was die geboorte van die Protestantse Hervorming, ‘n gebeurtenis 500 jaar gelede wat die wȇreld verander het.

Luther se werk was soos die van ‘n ysbrekerskip. Dit het die pad opgebreek. Sy betekenis vir die kerk van Jesus Christus is ontsaglik groot. Kerklik en teologies is die gesag van die Bybel weer bo alle twyfel gestel. Na Luther het mense sy teologiese werk voortgesit, waaronder Zwingli, Bullinger, John Knox en Johannes Calvyn. Vir ons vandag is die mooi nalentskap van die Hervorming in besonder vervat in die vyf “solas” van die Hervorming of Reformasie, naamlik Sola Fide (net geloof), Sola Gratia (net genade), Sola Scriptura (net die Woord), Solus Christus (net Christus) en Soli Deo Gloria (net aan God die eer).

Om die geleentheid te vier word almal uitgenooi om op Vrydag 29 September 2017 om 18:00 (6nm) in die kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstraat) te kom luister na ‘n lesing deur prof Dolf Britz, bekende kerkhistorikus en emeritus professor in Kerkgeskiedenis aan die Teologiese Fakulteit van die NG Kerk in Bloemfontein. Tydens die geleentheid sal die Afrikaanse vertaling van die 95 stellings van Maartin Luther te koop wees.

PERSOONLIKHEID VAN DIE WEEK

Petra is Jagersbosch. Vandat sy agtien jaar gelede, in 1999, hier begin werk het, het die sentrum met rasse skrede gegroei. Sy bestuur hierdie organisasie met deernis, moed en dankbaarheid.

Kon julle nog altyd die salarisse van die werknemers betaal?
Daar is wel ‘n kroniese tekort aan geld maar genadiglik kon ons elke maand ons werkers se salarisse betaal. Ons werk nie vir profyt nie maar om ons dienste aan die gemeenskappe van Stilbaai en Melkhoutfontein se ouer inwoners toeganglik te maak.

Wat is jou posbeskrywing?
Ek bestuur die organisasie.

Neem nuwe lede toe?
Ja, daar sluit gedurig nuwe lede aan. Ons het tans 950 lede en lewer diens aan 500 mense per maand. Die ledetal in Melkhoutfontein is 70.

Hoe bemark julle hierdie sentrum/ organisasie?
Hoofsaaklik mond tot mond aanbevelings. Volgende jaar sal daar aan bemarking meer aandag gegee word.

Wat is kortliks jou geskiedenis voor Stilbaai?
Ek het BSc Huishoudkunde geswot, ‘n ruk skoolgehou en klasgegee en kort voor lank het ek en Alex Stilbaai toe getrek. My ma, Babs, bly in Stilwaters. Die pos vir bestuurder van hierdie organisasie is geadverteer. Ek is eers aangestel as voedselbestuurder en na ‘n paar maande as bestuurder.

Waarmee sal jy tevrede wees?
As ek elke aand kan gaan slaap en te weet Jagersbosch is in bekwame hande.
Wat is jou doel op aarde?
Ek wil net gelukkig wees in die uitvoer van my roeping.

Waarna sien jy uit?
Om oor ‘n jaar of vyf meer tyd saam met my man Alex deur te bring, om te verf, te lees en Stilbaai te geniet.

Wat weet die inwoners van Stilbaai en Melkhoutfontien nie van Jagersbosch nie?
Die gemeenskapsorgsentrum het onstaan uit ‘n behoefte van afgetredenes van die omgewing. Die behoeftes word aangespreek deur opgeleide susters wat bloeddrukmetings doen en bedsorg aan huis verskaf.
Ons bring etes aan bejaarde lede en inwoners na hul huise, elke dag van die week tot Sondae. Vrywilligers lewer hierdie diens. Dit kos slegs, vanaf hierdie jaar, R100 per jaar om lid te word van Jagersboch. Daar is geen ouderdomsbeperking nie. Die jeugouderdom geld net vir gestremdes.

Vertel iets van die geskiedkundigheid van die gebou waarin ons nou sit.
Die Munisipalitiet van Stilbaai het in 1988 toestemming verkry om ‘n gedeelte van die plaas Jagersbosch vir R100 000.00 te koop.
Die huis op die plaas, tans die hoofdienssentrum, was toé 140 jaar oud. Die opstal, wat die adminkantore is, se restourasie, is deur vrywilligers van tussen 78 en 75 jaar – dertig van hulle, binne een jaar voltooi.
Die Jagersbosch farmstead in is in 1991 as nasionale monument verklaar.
Soeterus Gemeenskapsentrum in Melkhoutfontein het ook uit hierdie organisasie ontstaan.
Daar is ‘n skuiling vir haweloses in Melkhoutfontein. Hierdie skuiling is aan Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum oorgedra.

Wanneer is die stalletjies by die Waenhuis?
Die Waenhuis is ‘n buitekombuis. Uit hierdie kombuis kom al die etes wat aan lede verskaf word.
Die Buitekombuismark in die Waenhuis is elke eerste Saterdag van die maand. Daar is altyd plek vir nog intrepeneurs om hul handewerk en produkte te kom verkoop.

Waarvoor staan NPO?
Non Profit Organisation.

Hoe funksioneer die Stilbaai Gemeenskap en Jagersbosch?
Die een hand was die ander.

Hoe sal jy Stilbaai beskryf?
Dit is ‘n unieke dorp wat vra vir unieke diens en dit gee ons met sorg en liefde.

Petra: 082 9555940