Van die Redaksie

Met die aanbreek van die nuwe universiteitsjaar hoor ek hoe die opgewonde jong skoolverlaters met soveel opwinding uitsien na die eerste jaar as student weg van die huis.

Ek kan nie help om met ‘n glimlag terug te dink aan my eie kind se studente dae nie.
Ja, daar wag verseker nog ‘n paar minder aangename verrassings op hulle en op hul ouers.

Die opwinding van ‘n eie blyplek maak vinnig plek vir al die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan.
Met ‘n skok besef hulle … daar is nie meer net elke aand ‘n bord tuisgemaakte kos nie. Grace is nie meer daar om skoon te maak, wasgoed te was, te stryk, bed op te maak ens., ens., nie !

Na so 3 weke op haar eie het ek gaan kuier.
Nog nooit was ek met soveel blydskap ontvang nie en kort voor lank borrel dit uit.
“Ma, om so op jou eie te bly het my laat besef – daar is nie elke dag net kos nie. Jy moet dit eers gaan koop, dan gaarmaak, eet en dan nog opruim en skottelgoed was ook.” Die wasgoed …, bed opmaak …, die stort…,” en so babbel sy aan.

Maar ek moet sê, na ‘n paar maande het sy dit “genail” (soos sy dit gestel het) en selfs haar begroting het geklop.

Dit alles, nie sonder hulp, trane, ondersteuning, bemoediging en gebed nie.

So vir die ouers met alleenbly kinders op universiteit, moet nie onnodig stres nie. Ten spyte van al jou bekommernisse, is die kans baie goed dat jou kind jou aangenaam gaan verras.

Hoe moeilik ookal, hulle wil net hê ons moet hulle vertrou, hulle foute vergewe en hulle die geleentheid gee om hulself te bewys.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply