MY BEMARKING WERK NIE – HELP!!

Jy het alles probeer: Jy het advertensies geplaas, jy het jou vriende gevra om te help adverteer. Jy het pamflette laat druk, duisende van die goed, en dit versprei van hemel tot aarde. Almal met wie jy in aanraking kom, weet al wat jy doen en wat jou produk/diens behels. Maar steeds bly besigheid swak, die telefoon is stom, en jy begin wonder of jy die regte produk/diens het. Maar tog gebruik mense jou produk/diens wat hulle van ander af kry!

Wat nou gemaak?
Hierdie is ‘n bekende gevoel onder meeste entrepreneurs. Die magteloosheid van “wat moet ek nou nog doen?” En die rekeninge hoop op, en die slapelose nagte raak al erger….
Jy is nie alleen nie. En die waarskynlikheid is baie groot dat jy met die regte insigte baie vinnig die besigheid kan omswaai. Miskien is dit beter om te kyk na die 5 mees algemene bemarkingsfoute wat entrepreneurs maak en te besluit of my onderneming wel op die regte pad is.

Die GROOT VYF
1.Versuim om ‘n teikenmark te identifiseer en aan te spreek
2.Gebrek aan begrip van wat jy verkoop
3.Geen pogings om leidrade te genereer nie
4.Gebruik maak van “push” bemarking
5.Meet nie die regte dinge nie, of meet niks.

1 Versuim om ‘n teikenmark te identifiseer en aan te spreek
Jou teikenmark is die mense wat jou spesifieke produk nodig het.
So eenvoudig soos dit. Maak geen fout nie, soms weet mense nie dat hulle jou produk/diens nodig het nie. Maar, eers wanneer hulle jou produk/diens leer ken, en dit vergelyk met hulle eie behoeftes, dan volg die aksie om dit te bekom baie vinnig.
Deur NIE jou teikenmark te identifiseer, behoorlik te omskryf, en uit te vind hoe en waar hulle bereik kan word nie, word enige reklamepoging verminder tot weinig meer as om Krugerrande in die wensput te gooi.

2 Gebrek aan begrip van wat jy werklik verkoop
Sekerlik is die mees fundamentele kommentaar oor hierdie onderwerp gelewer in ‘n stuk genaamd “MarketingMyopia” deur Theodore Levitt wat reeds in 1960 in die gesaghebbende Harvard Business Review verskyn het. En steeds, net soos in daardie dae, is die mees elementêre fout wat enige bemarker kan maak, om te dink dat hy ‘n produk verkoop.
Klante is op soek na resultate – en die resultate is nie geleë in ‘n dooie item nie, maar wel in die voordele wat die besit van die item bring. Die vervaardiger wat diefwering verkoop, verkoop eintlik veiligheid, sekuriteit en gemoedsrus – NIE ‘n klomp yster nie!
Verder is die afgestompte prentjie van ‘n verkoopsman wat sneeu aan ‘n Eskimo kan verkoop, ongelukkig steeds die rolmodel vir baie bemarkers en entrepreneurs. Sukses in verkope is nie geleë in die druk wat teweeggebring word deur argumente of geykte uitdrukkings nie – sukses is geleë in die bymekaarbring van die jou produk/diens en die klant se behoeftes.

3 Geen of weinig pogings om leidade te genereer
Dit gebeur dikwels dat ‘n entrepreneur ‘n onderneming begin, ‘n winkel oopmaak en dan wag vir klante om te kom koop. Hoewel hierdie ‘n oorvereenvoudiging is van die verskynsel, is dit in beginsel wat dikwels gebeur.
Meeste klandisie word gewerf deur direkte kommunikasie oor die betekenis en voordele van die produk of diens; klante sal nie oortuig word van die voordeel om jou produkte te gebruik deur slegs jou besigheidskaartjie te kry nie. Jy moet aktief die besigheid bemark ten einde hulle te oortuig dat jou produk/diens vir hulle voordeel gaan inhou.

4 Gebruik maak van “pull” bemarking
Die sg. “pull” bemarking bestaan daaruit dat advertensies geplaas word in die hoofstroom media met die oog daarop dat mense die produkte moet koop. Vir sekere produkte, die sg. “kommoditeit” produkte, sal hierdie soort advertensie werk – en merendeels word kompeterende voordeel gevestig deur prys alleen.

Vir produkte wat nie in die kommoditeit kategorie val nie, soos byvoorbeeld sonpanele, sal algemene “pull” bemarking nie werk nie. Om vir hierdie produkte ‘n mark te skep, is dit nodig om “push” bemarking te doen – die produkte moet na die mark en klante toe geneem word, sodat die mark oortuig kan word dat die produk wel voordelig is.

5 Meet nie die regte dinge nie, of meet niks
Wat is die opbrengs op die uitgawes wat aan bemarking bestee word? Hoeveel omset kry die onderneming uit ‘n spesifieke bemarkingsveldtog?
Hierdie vraag word dikwels nie eers gevra nie, en nog minder beantwoord.

Bemarking is slegs doeltreffend indien dit resultate wys, met ander woorde, die geld wat gespandeer word aan reklame en advertensies bring meer geld in as wat uitgegee is. Dit is gevolglik krities vir die entrepreneur om te meet hoeveel positiewe resultate van spesifieke bemarkingspogings kom. Indien die resultate nie positief is nie, moet ander reklame kanale gevind word.

6 Ten slotte
Entrepreneurs kan slegs vorentoe beweeg met hulle ondernemings indien omset, verkope en wins verbeter. Die sleutel tot sukses lê in bemarking – nie net advertensies nie, maar goed beplande bemarking. Entrepreneurs spesialiseer dikwels in enkele aspekte van ‘n onderneming – soos bouwerk, installasie van warmwater silinders, of herstel van stowe en wasmasjiene. Bemarking is ‘n totaal ander spesialiteit, beter hanteer deur kenners.
Indien jou onderneming graag ‘n groter mark wil betrek, kontak gerus die skrywer vir verdere inligting.
Kontak gerus vir Francois le Roux, Bemarking Spesialiskonsultant by Garden Route Business Services: francois@grbs.co.za vir inligting,

 

Print Friendly, PDF & Email