‘N VROEË KERSFEES

4

Drie-honderd-en-vyftig minderbevoorregte kinders van ses skole in die Hessequa-streek kon vanjaar Kersfees vroeër as gewoonlik ervaar toe hulle elk ‘n gevulde skoendoos gepak met allerlei items ontvang het.
Dit was te danke aan die jaarlikse Santa Shoebox-projek onder die leiding van projekkoördineerders, Johannie Vermeulen en Meghann Bouwer, wat saam met ‘n groep vrywilligers die afgelope twee weke plaaslike kinderharte verbly het. Dié projek is gemik op kinders regoor die land wat onlangs skoenhouergeskenke, gevul met items spesiaal vir elke individuele kind, ontvang het.
Die Santa Shoebox-inisiatief, wat in 2006 ontstaan het, het reeds 456 000 skoenboksgeskenke aan kinders tot en met 18 jaar, versprei. Hulle het vanjaar hul teiken van 100 000 geskenke net-net gemis.
“Elke dankbare gesiggie maak die rondskarrel na skoenbokse elke jaar definitief die moeite werd,” sê Vermeulen“. Dis skrikwekkend om te hoor in watter omstandighede sommige van die kinders grootword en as ons projek hulle net ‘n titseltjie kan help, dan is dit uit en uit die moeite werd.”
Vanjaar het die “give for good”-tema oor die Suid-Afrikaanse grense gestrek met skoenboksgeskenke wat tot in Namibië versprei is.
Die Santa Shoebox-webwerf (www.santashoebox.org.za) het op 1 September oopgemaak en diegene wat graag meer oor “gee vir beter” wil uitvind, kan gerus dit gerus besoek. Alhoewel skoendose vir 2015 reeds ingesamel en uitgedeel is, kan donateurs steeds ‘n finansiële bydrae maak.
Vrywilligers in die Hessequa-distrik wat graag by die projek betrokke wil raak, kan Johannie by 083 333 1810 skakel. •

Print Friendly, PDF & Email