STILBAAI STORIES

Foto

Hierdie besoek was vir my ’n besonderse ervaring en voorreg – Sandra Prinsloo

Die bekende en noual byna legendariese aktrise Sandra Prinsloo het onlangs weer ’n besoek aan Stilbaai gebring. Lesers sal haar onthou vir haar uitstekende optrede in Oscar en die tannie wat sy in September verlede jaar Stilbaai toe gebring het.
Hierdie keer het sy haar vervaardigersjas aangehad. Sy en haar span het stories, vertel deur die ouere garde van Melkhoutfontein, kom opneem en verfilm en word “Stories uit Melkhoutfontein” genoem.
Die projek wat deur die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans aangebied word, is Sandra se tweede projek van die aard. Haar vorige produksie “Die stories van Skurweberg” deur storievertellers van Ceres, is vroeer vanjaar by die Woordfees wat deur die Universiteit van Stellenbosch aangebied word, aan die publiek voorgestel en was baie gewild by die gehore.
Prinsloo het met meelewing geluister na die vertellings van Melkhoutfontein se ywerige storievertellers en beskou hierdie besoek as ’n besondere voorreg. Tydens die Woordfees 2017, sal hierdie stories aan die publiek beskikbaar gestel word.
As ’n beskermvrou van die SBA, lê hierdie projek haar baie na aan die hart. Ook as gevolg van haar besonderse verbintenis met Stilbaai.
Melkhoutfontein se vroue het nie agterwee gebly toe “Die stories uit Melkhoutfontein gedurende Augustus in die Kunstekaap in Kaapstad bekend gestel is nie. Die bekendstelling was deel van die Kunstekaap se Vrouemaand- vieringe.
’n Groep vroue het die koue trotseer en die bekendstelling gaan bywoon. Hulle is vergesel deur die vorige raadslid van die Hessequa Munisipaliteit, Charles Prins en Gerswin Cupido, ’n jeugleier van Stilbaai.
Dit was ook tydens hierdie vieringe dat die nuut ontdekte skilder, Oswald Davids van Heidelberg, se kunswerke bekend gestel is. Hierdie kunsskeppings is in opdrag van die SBA geskilder. Die opdrag was dat die vier skilderye en vier ander werke wat van papier maché geskep is, die stories wat vertel is uit Melkhoutfontein, moes uitbeeld.
Stilbaai is die afgelope tyd behoorlik van kennis geneem. Eers was storie- vertellersprojek, volgende was die onderhoude rakende die projek uitgesaai op RSG, toe volg die onderhoud met Mike Steytler oor die “Tuin op die Brak” ook op RSG. Ons het skaars ons trotse stertvere daaroor reg geskud toe die filmspan van Mooiloop op SABC 2 ons dorp deurkruis , wat Woensdag gebeeldsend is en nog ’n aflewering die komende Woensdag het, en verlede naweek was daar die uitsending van Johan Rademan (RSG) op Reis sonder Grense se besoek aan die dorp en die werk van die NSRI Stilbaai.

Dit wil gedoen wees! Kom ons vier trots fees oor Stilbaai! 

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply