OUMA LENA SE HUIS

article-pic-1Na ’n onlangse berig op die Facebook-groep Stilbaai-bay of The Sleeping Beauty waarin van die lede hul ongelukkigheid uitgespreek het oor ’n groep seuns wat saam met hul honde in die strate van Stilbaai en Melkhoutfontein ronddrentel, was daar gemengde gevoelens oor die kwessie.Daar is beweer dat die seuns, wat nie skoolpligtig is nie, enige geleentheid sal aangryp om diefstal te pleeg. ‘n Groot trekpleister is glo vensters wat oopstaan en klere op die wasgoedlyne.

In ‘n daaropvolgende berig het ‘n inwoner van Stilbaai vertel van die projek wat Ouma Lena se Huis, oor wie se gemeenskapsaktiwiteite Hessequa Nuus voorheen berig het, aangebied om kinders weg te hou van die strate en dat hulle graag aan hierdie seuns opleiding sou wil bied in vaardighede wat hulle kan gebruik om mee ’n positiewe bydrae te lewer. Nie net tot hul eie lewens nie, maar ook tot die gemeenskap.

Daar is ook gevra dat die gemeenskap van Stilbaai betrokke sal raak by die projek om sodoende sukses te verseker.

By die Ouma Lena se Huis-Jeugsentrum word 24 kleuters soggens vanaf 8:00 besig gehou met verskeie aktiwiteite en word broodnodige lewensvaardighede geleer wat die kleuters help om hul plek in die samelewing te vind. In die namiddag word 70 -100 skoolgaande kinders, met hul huiswerk gehelp. Die projek verskaf ook daagliks aan elke kind ’n gebalanseerde maaltyd. Wie sal weet of dit dalk die enigste maaltyd van die dag is?

’n Stimulerende voorskoolse program wat deur die sentrum aangebied word hou kleuters van die straat af. Dit is so dat kinders dikwels gelok word om diens te doen as vooraf- loerders om die daaglikse bewegings van inwoners in ’n geteikende straat te bepaal. Terwyl die misdaad gepleeg word, word die kinders as “kywiehouers” ingespan om die kwajongens te waarsku sou iets waarvoor nie beplan is nie, opduik. Wat dit aantreklik maak is die feit dat die kleintjies altyd geld vir hulle “werk” ontvang.
Die Jeugsentrum het die gemeenskap se hulp nodig om hierdie besondere projek, om die jongspan van die strate weg te hou, met meer sukses toe te pas. Daar is suksesverhale is, hoewel vrywilligers wat hierdie projek behartig kan nie alles alleen behartig nie en om kinders in ‘n plek van veilige bewaring te plaas is ‘n lang en moeisame proses.

Sou ’n mens hierdie kwessie, van die kinders wat doelloos in die strate ronddrentel, van naderby beskou, wonder jy of die veiligheid van, in hierdie geval, Stilbaai alleenlik die polisie se verantwoordelikheid is?
Die gemeenskap se betrokkenheid is net so belangrik aangesien dit nie net Stilbaai se inwoners, maar ook die inwoners van Melkhoutfontein is wat hierdeur geraak word. Baie mense wil bystand lewer, maar hulle weet nie altyd hoe nie.

Persone wat wil betrokke raak word genooi om besoek af te lê by Ouma Lena se Huis in Melkhoutfontein. Daarna kan jy besluit hoe jy die projek wil ondersteun – as vrywilliger of dalk deur ‘n finansiële bydrae te maak.Die sentrum bied alle dienste gratis aan.
Een ding is verseker, ‘n kind wat positiewe leiding ontvang in die aanleer van lewensvaardighede en morele waardes het beslis ’n baie beter geleentheid om ’n opgevoede, selfstandige volwassene uit te draai om so sy/haar plek in die samelewing vol te staan.

Kontak Badisa by
028 754 2203 of
Jennie Olivier 082 565 0979

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply