MUSIEKBLYSPEL WEERGALM DEUR JONGENSFONTEIN!

article-pic-1

Vrydagaand, 21 Oktober 2016, het Stilbaai se eie talent, katjie van die baan gespeel in Jongensfontein se kerksaal. Om en by 100 toeskouers, plaaslike inwoners en kampeerders, het die saal vol gesit om, “For His Name’s Sake”, ‘n musiekblyspel te geniet. Die Bybelse toneelstuk is geskryf deur Griet Gouws, na aanleiding van historiese en huidige feite. Die span bestaan uit Stilbaai- talent en verskeie musiek is self gekomponeer. Die akteurs het deur musiek, drama en dans die gehoor bekoor en God se hart gedeel. Soos vooraf verduidelik deur Barry de Wet is daar volgens die Woord van God drie hoof gebeurtenisse wat die profete van ouds af oor skryf. Eerstens is dit die koms van die Messias. Die tweede een is die herstel van Israel as ‘n volk. En die derde groot profesie is dat Jesus weer kom!

Die musiekblyspel handel oor die gebeure wat daarop aandui dat God besig is om met Israel, as nasie, te werk. Hy het hulle nie verstoot of verplaas nie. Is dit nie juis vir Christene ‘n aanduiding van God se getrouheid aan ons as ons kan sien dat Hy getrou is aan die volk van Israel en aan Sy Woord nie? Een onmisbare manier waarop Hy homself in ons generasie en tyd bekend maak is deur die terugkeer van die Jode na Israel. Aliyah is eeue gelede deur Isaiah, Jeremiah en Esegiel geprofeteer, en ons is die bevooregte generasie wat dit kan aanskou!

“En ek sal julle uit die volke uilei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur ‘n sterkte hand en deur ‘n uitgestrekte arm…En julle sal weet dat ek die Here is as Ek julle in die land van Israel bring, in die land waar Ek my hand oor opgehef het om dit aan julle vaders te gee.” Esegiel 20: 34, 42 Jesus het gekom en hy kom weer!  Die groep het in Mei -maand begin met hulle optredes en het vandag al 19 optredes gehad, so wyd as Johannesburg en so naby as Jongensfontein!

Indien jy sou belangstel om meer inligting oor die groep en hulle optredes te verkry, kontak Griet Gouws by eposadres: grietgouws@gmail.com -Jeanie de Wet  

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply