RUBRIEK UIT STILBAAI

Ai, die sorgvrye dae van skoolgaan en nou die laaste eksamen. “Hoe was die vraestel?” “Die eerste oraait maar die tweede sal ons maar moet sien.” So hang die skoliere in die strate en buite sentrums uit – verlig dat die eerste vak verby is. (Teen die tyd van hierdie plasing is die eksamens op ‘n end).

Wees in die strate, geniet die vryheid. Skool is amper verby. Dan die heerlike lang vakansie waar almal net opgeruimd en vrolik is. Bars uit jou vel uit en doen lawwe dinge.

Tot hoeveel is een mens in staat? Hier waar die matrieks aan die vooraand van hul loopbane staan, dien Dirk Brits van On the Rocks as voorbeeld van wat eén mens kan doen. Toe hy oorlede is, het sy hele onderneming ook tot stilstand gekom. Elke mens het vaardighede ontvang. Die een min, die ander baie, maar met ‘n vaardigheid en twee hande kan jy mense dien. Vir Dirk was goeie kos, flink diens en volhoubare toesig oor sy werknemers, sy diens aan die Stilbaai gemeenskap. Hy het met sy vaardigheid en twee hande ‘n groot en alombekende onderneming bedryf. Jongmense – deel jou vaardighede en benut ander se vaardighede tot voordeel van jou gemeenskap.

In Stilbaai het einde Oktober hier ‘n ding gebeur wat jare laas ondervind is. Donderslae en blitse het die hemelruim gevul. Dit was gerusstellend en ontsagwekkend. Die weer dreig saggies en mens se hart voel die verwagting van strome reёn wat uit die hemel sal val. Dit was herinnering en hoop. Daar het groot druppels geval maar nie veel nie.

Die opkoms in Stilbaai, Maandag 30 Oktober, om die plaasmoorde te verdoem was nie groot nie. Om te sȇ ‘genoeg is genoeg’- vra nie meér praat en optogte nie – dit vra voorkóming, beskerming en verdediging. Elke gesin en en familie moet net doen wat hy moet doen elke dag. As jou gesin en familie veilig is, is jou gemeenskap ook veilig. Kinders speel, skoliere leer, studente studeer en grootmense werk. Geniet die vrug van jou arbeid.

Kriminaliteit skep negatiewe werk. Gelukkig in Stilbaai en Melkhoutfontein kan ons nog staatmaak op die polisie en buurtwagte om lewens en eiendom te beskerm. Aan die ander kant – die dorps en of stadsvaders en ouers hou die leerlinge in skole verantwoordelik vir die dwelms wat op skoolterreinne gebruik en gevind word. Hulle is verkeerd. Dit is die plaaslike wetstoepassers se verantwoordelikheid om dwelms wég te hou van kinders deur dwelmsmouse uit ‘n gemeenskap te hou!

Martin & East, die padbouers, hoop om op 8 Desember, 2017 die stop en rye op die pad hierheen en uit, te verwyder.

Besoekers van ver plekke is vol lof omdat Stilbaai so skoon en veilig is. Waar húlle vandaan kom, is die strate morsig, krag gedurig af en daar is ‘n kroniese gebrek aan water. Dankie julle van die Munisipaliteit hier in Stilbaai.

Matrikulante en studente wat nou klaarmaak. Julle is die volgende generasie. Kan ons hoop dat die jongmense wat die arbeidsveld nou betree, hulle werk met ywer en toegewydheid doen. As een dorp, Stilbaai, daarin kan slaag om skoon en veilig te bly, sal júlle ons land weer op die been kan bring.

En toe val die strome reёn twee weke na die donderslae en blitse.

President Donald Trump, het met sy Asiese besoek aan die einde van Oktober 2017, bewys hy is definitief nie ‘n ou vir pretensies en protokol nie. Toe hy in Japan, saam met eerste minister Abe, die khoi visse gevoer het met ‘n ou lepeltjie, het hy moeg geraak en sommer die hele bak kos met een slag in die dam gegooi. Hy het later ook die keiser en keiserin van Japan ontmoet en nie, soos protokol dit voorskryf, voor hulle gebuig nie. Hy het net handgegee soos westerlinge doen. Hulle het op hulle beurt, soos dit die adel betaam, nie aanstoot gewys nie en ook vriendelik handgegee.

Goeie nuus – die kerksaal aan die oostekant word toe nie verkoop nie! ‘n Weldoener van die NG Kerk het die saal se behoud verseker.

Thea Scheepers

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply