van die Redaksie

Iemand het eenkeer gesê: “Die eerste vuishou wat jy iemand toedien, kom dikwels in die vorm van ‘n woord….”
Die manier waarop jy vir iemand iets sê kan ‘n blywende indruk en invloed op hulle lewe, gesindheid en selfbeeld hê.

Almal van ons is op die een of ander manier hieraan skuldig. Dit hoef nie noodwendig tydens ‘n woordewisseling te wees nie, soms maak ons onwetend ‘n aanmerking wat iemand seermaak of waardeur hulle beledig voel.

Dink voor jy praat, want as dit eers gesê is kan jy woorde wat seermaak of beledig nie terugtrek nie.

Na ‘n kuier saam met vriende het ek net weer besef hoe sekere kwetsende aanmerkings jou besluite en keuses in die lewe kan beïnvloed. Almal het die aand ‘n storie te vertelle gehad, oor iets goed of sleg wat veral ‘n onderwyser/es, ouer, vriend/in, broer of suster kwytgeraak het.

Sommige mense glo graag hulle is baie snaaks en maak allerlei ongevraagde grappies. Kies jou geselskap en vriendekring, sulke grappies word nie altyd deur almal teenwoordig waardeer nie. Behalwe dat dit ‘n uiters onaangename en ongemaklike situasie kan veroorsaak, bederf dit die geleentheid. Dikwels lei sulke onvanpaste uitlatings ook tot ‘n argument en bakleiery met verreikende gevolge.

Verlede naweek se stormloop en vernietiging van eiendom by die H&M winkels regoor die land is ‘n goeie voorbeeld van hoe die bewoording van ‘n advertensie/bemarking aanstoot kan gee en gemoedere kan opjaag….om nie eens van Donald Trump se uitlatings te praat nie.

Ons vergeet maklik die fyn lyn tussen –
· sommer net iets sê en ondeurdagte woorde wat seermaak.
· Iemand wat nie sy woord hou nie.
· Iemand wat agteraf is en nie ‘n probleem trompop loop nie.
· Iemand wat skinder en stories aandra.

Ons wil vir die oortreder kwaad wees, maar elkeen van ons is self op die een of ander manier hieraan skuldig.

Plaas ‘n wag voor jou mond en moet nie dinge sê as jy kwaad is nie….want die kans dat jy dit later kan berou is baie goed.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply