KINDER STRAND

article-pic-1

Waar swem jy met jou kinders?

Wat maak een strand meer kindervriendelik as die volgende een… solank daar sand en branders is, wat maak dit saak? Nee, ouers wil ook ontspan op die strand en ’n tydskrif met een oog probeer lees. Daarvoor het jy ’n spesifieke soort strand nodig, verkieslik een met ’n lewensredder. As jou kinders klein is, is ’n strand met ’n strandmeer en/of rotspoele eerste prys. Jy kan saam met hulle seesterre of anemone soek in die rotspoele of vir hulle wys hoe om klipvisse te vang met seeslakkies as aas. Of julle kan saam ’n sandkasteel met ’n grag bou teen die rand van die strandmeer. En dan, sodra hulle goed besig is, sluip jy terug na jou handdoek toe…’n Verdere pluspunt, veral as jou kinders al sonder Polyotters kan swem, is ’n getypoel. Dis soos die see, maar heelwat veiliger. En die kersie op die koek is natuurlik ’n kombi wat draairoomyse verkoop in die parkeerterrein. Weg se keuse: Nature’s Valley, Palmiet (Kleinmond), Stilbaai, Morganbaai, Uvongo-strand, Umhlanga Rocks en Tietiesbaai (Kaap Columbine-natuurreservaat). En vir getypoele: Victoriabaai, Cintsa-Wes, Heroldsbaai en Salt Rock-strand.
Deur Esma Marnewick

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply