TEMA : HOE HANTEER JY ONBILLIKE EN SKERP KRITIEK?

LEES : 1 Samuel 1 : 1 – 28

Om leiding te neem is nie altyd maklik nie. Die hoogste bome vang die meesste wind en dit is waar. Hoe hanteer ons onbillike kritiek?
Elkana het twee vrouens, Hanna en Penina, gehad. Hanna was kinderloos en het as gevolg daarvan baie spot verduur van Penina. Dit het Hanna baie ongelukkig gemaak. Ons lees egter nêrens dat sy vir Penina te lyf gegaan het nie, maar sy het wel iets gedoen. Toe hulle weer in Silo (kerk) kom, het sy haar hart uitgestort voor die Here. Besef ons die belangrike les wanneer ons leiding wil neem en kritiek kry, dat ons soos Hanna kan maak. Wat ‘n groot krag het die gebed nie. Die Here hoor vir Hanna en gee wat sy begeer. Tog is daar ook ‘n ander hartseer. Terwyl sy bid kom Eli daar aan, die “dominee” of “pastoor” van die kerk. Hy beskuldig haar dat sy dronk is. Juis hier in die kerk waar empatie en begrip moet wees, word sy van die vreeslike ding beskuldig. Miskien het jy dit al ondervind dat die seerste kritiek juis uit die geledere kom wat jy die minste verwag. Hanna kon haar vererg het vir die pastoor/dominee en uitgestap het om nooit weer haar voete in die kerk te sit nie. Sy doen dit nie. Op rustige wyse stel sy haar saak en Eli begryp dat hy ‘n fout gemaak het. Het ons tyd om aan mekaar ons saak te stel sodat ons mekaar verstaan en nie veroordeel nie? God gee aan haar ‘n seun, Samuel, en daarna nog drie seuns en twee dogters. So het die Here gehoor. Jy kan ook die Here vertrou met jou saak, Hy luister.

Ds. Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstaat)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply