STAAN JOU MAN HIERDIE NOVEMBER

Gedurende die maand November fokus die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) op die Bewusmaking van Mansgesondheid. Die kollig val veral op Die Groot Vyf mees algemene kankers wat mans in Suid-Afrika raak.
http://www.cansa.org.za/mens-health/ #MensHealth

‘n Gebalanseerde lewenstyl en siftingstoetse is van die allergrootste belang om die risiko van kanker te verlaag en om te keer dat die persoon weer met dieselfde siekte gediagnoseer word. Tans word een uit elke sewe mans in Suid-Afrika gedurende hul leeftyd met kanker gediagnoseer.

Die vyf mees algemene kankers wat Suid-Afrikaanse mans teister, is prostaat-, kolorektale-, Kaposi-sarkoom (‘n tipe velkanker), long- en blaaskanker. Hoewel sommige risikofaktore soos ‘n familiegeskiedenis van die siekte, ouderdom en ras nie beheer kan word nie, kan ander faktore geminimaliseer word deur ‘n gesonde leefwyse. So ‘n leefwyse sluit onder andere in: ‘n gesonde en heilsame eetplan en dieet, die handhawing van ‘n gesonde liggaamsgewig, die vermyding van rook en inname van alkohol asook om aktief te wees deur gereelde oefening te doen.

Prostaatkanker, die nommer een kanker, wat 1 uit 18 mans in ons land raak, ontwikkel dikwels sonder enige simptome gedurende die vroeë fases van die siekte. Wanneer die kanker egter in ‘n gevorderde fase is, sal simptome soos die volgende heel waarskynlik ondervind word – ongemak en probleme om te urineer, urine wat lek, bloed in die urine en pyn in die bene. As prostaatkanker vroeg genoeg gediagnoseer en behandel word, is die prognose van die siekte dikwels goed. Mans word aangemoedig om jaarliks ‘n PSA toets te laat doen.

Kolorektale kanker (kanker van die kolon of rektum) is die tweede mees algemene kanker en tref ongeveer elke 75ste man uit elke 100 000 mans in Suid-Afrika. Gedurende die vroeë fases van die siekte is simptome nie teenwoordig nie, maar wanneer simptome wel voorkom, veroorsaak die siekte ‘n verandering van dermgewoontes, rektale bloeding, maagpyn, swakheid en gewigsverlies.

KANSA moedig die vroeë opsporing van kanker aan en doen ‘n beroep op die publiek om siftingstoetse deur middel van ‘n kolonoskopie vanaf die ouderdom van 50 jaar te ondergaan.

Die derde mees algemene kanker by mans is longkanker wat gediagnoseer word by elke 76ste man uit 100 000 mans in Suid-Afrika. Simptome van longkanker sluit die volgende in: kortasem, aanhoudende hoes, ‘n verandering van speeksel of slym, borspyn, luide asemhaling, heesheid en die hoes van bloed. Rook is die mees algemene voorkombare oorsaak van longkanker en die beste manier om die siekte te verhoed, is om nie tabakprodukte te gebruik nie, om dadelik op te hou rook en om tweedehandse rook te vermy. #NoTobacco

Die mees algemene VIGS-verwante kanker wêreldwyd is Kaposi Sarkoom (KS), wat die vierde mees algemene kanker onder mans in Suid-Afrika is. Ongeveer 1 uit 315 Suid-Afrikaanse mans word deur KS geaffekteer. Simptome van die kanker is kolle van abnormale weefsel wat onder die vel, in die voering van die mond, neus, keel en ander organe groei. Ongeveer ‘n derde van mense met klassieke KS ontwikkel ander kanker wat dodelik kan wees.

Die vyfde mees algemene kanker onder Suid-Afrikaanse mans is blaaskanker wat elke 148ste man uit 100 000 mans affekteer. Die grootste risikofaktor wat vermy kan word, is rook, wat die kans om met blaaskanker gediagnoseer te word, verdubbel. Geen siftingstoets is beskikbaar nie, maar bloed in die urine, ‘n verandering van die kleur van urine, die behoefte om meer gereeld te urineer en ‘n brandpyn wanneer ‘n persoon urineer, is ‘n paar van die simptome van blaaskanker.

Testikulêre kanker is algemeen onder jong Suid-Afrikaanse mans tussen die ouderdomme van 15 en 39 jaar en een uit 2 084 mans word deur hierdie kanker geaffekteer. Vroeë opsporing verbeter die oorlewingsyfer en die simptome kom voor in beide die testikels en skrotum en sluit knoppe, swelling en pyn in. Maandelikse selfondersoek van die testikels is ‘n maklike en effektiewe manier vir mans om ongewone en abnormale tekens en simptome op te spoor.

“Testi-monials” is ‘n veldtog wat vir KANSA geskep is deur FCB Cape Town. Die veldtog is daarop ingestel om die ongemak van gesprekvoering oor testikulêre kanker uit te wis. Raad oor selfondersoeke en hulp om tekens en simptome op te spoor, word ook ontleed. Besoek http://www.testi-monials.co.za/ vir meer inligting.

(Vir meer inligting skakel asseblief vir Anina Meiring : Gemeenskapsmobiliseerder KANSA of stuur ‘n epos aan: ameiring@cansa.org.za. Skakel 044 874 4824)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply